Kultuur bou broodnodige brûe

Die Afrikaanse Taalmonument en -museum (ATM) slaag daarin om die diverse samestelling van Afrikaans wat ’n inheemse taal is te omarm en daarom is ’n naamsverandering nie nodig nie.
Só sê Sonel Brits, besturende direkteur van die ATKV-MSW, in reaksie op berigte dat Nathi Mthethwa, die minster van sport, kuns en kultuur, versoek het dat dié monument se naam moet verander.
“Groter begrip van mekaar se eiegoed en kulture sal noodwendig lei tot ʼn beter Suid-Afrika vir almal. Dis immers lankal bewys dat kultuur broodnodige brûe kan bou. Om ’n naam te verander is bloot net dit… ’n Naam wat verander, maar wie gaan werklik daarby baat vind?”
Dit was nog altyd vir die ATKV belangrik om die Afrikaanse taal, kultuur, kennis en kreatiwiteit onmisbaar deel te maak van nasiebou, versoening en ’n suksesvolle Suid-Afrika.
“Die ATKV glo dat daar gefokus moet word op die toekoms sonder om die verlede in te boet. Afrikaans het ’n ryk geskiedenis en om te weet wie jy is en waar jy vandaan kom, is kernbelangrik om die toekoms met selfvertroue tegemoet te stap.
“Daarom verwelkom die ATKV die openbare vergadering op 28 Mei in die Paarl om hierdie voorstel in-diepte te bespreek. Ons hoop dat rolspelers en lede van die publiek hulle weg sal oopsien om op ’n konstruktiewe wyse hieroor te gesels. Die ATKV beplan ook om ’n afgevaardigde te stuur om dié organisasie se standpunt te stel.”