Kunstejêm-tak reik uit tydens Paastyd

Die ATKV-tak Kunstejêm het hul harte oopgemaak vir die bejaarde dames van die Gerald Fitzpatrick-tehuis in Bertrams, Johannesburg en hulle op 9 April met ’n feesmaal ter viering van Paasfees bederf. Die tak kon 10 dames borg vir ’n smaaklike driegangmaaltyd en paaseiers. Al die inwoners van die Gerald Fitzpatrick-tehuis het heerlik saamgesmul op Paassondag te danke aan die publiek se skenkings, terwyl die ATKV-tak Kunstejêm se bydrae, tesame met die ander donasies wat ontvang is, ook verseker het dat die inwoners elke dag van die vier dag lange Paasnaweek tydens teetyd (10:00 en 15:00) bederf is met paasbolletjies.
Die Gerald Fitzpatrick-tehuis is die tuiste van 76 vroue, almal ouer as 65 jaar (die oudste inwoner is al 100), wat afhanklik is van SASSA-toelaes. Hierdie vroue kan nie eers die broodnodige bekostig nie. Desnieteenstaande die feit dat hulle veilige behuising het by Gerald Fitzpatrick, word baie van die bejaardes bloot by die tehuis afgelaai en daar “vergeet”. Die tehuis is van skenkings afhanklik om die bejaardes van die nodige te voorsien.
Nicole van Eeden, fondswerwer vir die tehuis, sê sy is dankbaar vir die Kunstejêm-tak en die gemeenskap se bydraes om die Pase vir die inwoners spesiaal te maak. Die Covid-pandemie het ’n invloed gehad op die aksies wat vir die bejaardes gehou kon word en dit is ’n riem onder die hart dat die publiek genoeg omgee om nie van Gerald Fitzpatrick se dames te vergeet nie, veral aangesien die tehuis regtig nie enige ekstra fondse het om self iets spesiaal te reël nie.
Om hul waardering aan gereelde borge uit te spreek, het die tehuis op 18 April ’n borge-ete gehou by die Glenshiel-hotel in Johannesburg. ’n Span van die ATKV-tak Kunstejêm het die besonderse oggend bygewoon, waar Nicole ’n voorlegging gedoen het oor die tehuis en hul behoeftes.
Om betrokke te raak by die ATKV-tak Kunstejêm, kontak Samantha Nel by 011 919 9055 of stuur ’n e-pos na SamanthaN@atkv.org.za. Om ’n donasie te maak aan die Gerald Fitzpatrick-tehuis, gesels met Samantha of klik hier.
Besoek https://atkv.org.za/ons-storie/takke/ om jou naaste ATKV-tak of ATKV-jeugtak te vind. Stuur ’n e-pos aan atkv@atkv.org.za as jy belangstel om ’n ATKV-tak te stig.