‘Kwaaiwater’-karakters bly jou by
Kwaaiwater, Irna van Zyl se jongste spanningsroman, se titel kom van die plek in Hermanus met dieselfde naam. Dis hier waar ’n vrou se lyk gevind word op die eerste dag van ’n skrywersfees in die dorp. Sy word vinnig geïdentifiseer as Isa du Bois, ’n skrywer wat daardie dag by die fees oor haar nuutste boek sou praat. Speuradjudant Storm van der Merwe, wat ons reeds in drie vorige boeke leer ken het, (Moordvis, Gifbeker en Bloedsteen) moet dan die moord oplos.
Kwaaiwater skop af met Emèl Botha, ’n oudpolitikus, en speuradjudant Storm wat hulleself in ’n baie gevaarlike situasie in ’n hysbak bevind. Dit is reeds genoeg om die leser se aandag te gryp en jou verder wil laat lees.
Dit blyk vinnig dat daar ’n verband tussen Storm se oudkollega en vriend, Andreas Moerdyk, en die vermoorde Isa du Bois is, dus wil Moerdyk help met die moordsaak. Só kruis Storm en Moerdyk se paaie dan weer, en kort voor lank is daar nog twee lyke in die dorp wat deel word van die ondersoek. Hoewel die spanningslyn behou word regdeur die boek, was daar tog tye waar dinge dalk vinniger kon beweeg.
Die leser maak kennis met ’n rits interessante karakters. Die vermoorde Isa du Bois se man, Stephanus, wat verdag optree en moontlik genoeg van ’n motief gehad het om haar die lewe uit te help, die onderduimse Whitey en glibberige Lood Hauman, wat ’n bedenklike skoonmaakdiens bedryf. Hy is ook die aansienlik jonger lewensmaat van die oudpolitikus, Emèl Botha. Emèl het pas ’n boek geskryf in ’n poging om lig te werp op waarom sy destyds uit die politieke party moes bedank. Sy is ’n belangrike karakter wat uitstaan en onthou gaan word, juis omdat sy so geloofwaardig is en die leser haar goed leer ken. Karakterisering en dialoog is beslis sterkpunte in hierdie verhaal, waarin elke karakter sy eie manier van praat het en deurentyd in karakter bly.
Die ontknoping kom met goeie motiverings vir waarom dinge gebeur soos wat dit uitspeel. Storm se persoonlike verhaal ontwikkel ook verder, maar as leser sou ’n mens dalk meer wou deel wees van haar lewe. Dit blyk wel dat dinge só opgestel word dat dit gaan lei na nuwe ervaringe vir Storm in volgende boeke. Hopelik kom Storm ons gou weer oplaai in haar Volla sodat ons kan saamry in haar toekoms in.
Hierdie boek is beskikbaar by toonaangewende boekhandelaars. Koop dit hier aanlyn.
Resensent: Analize Viljoen