Kyk uit vir die rooi mobiel in die strate van Kariega (Uitenhage)

Bruce Koopman en sy rooi mobiel is ʼn bekende gesig in die strate van Kariega (Uitenhage). Van vroegdag tot donkeraand vervoer hy mense van punt A na B in sy rooi Toyota Corolla 1996-model. Dié vervoerdiens sluit sommer ʼn lekker "positiewe skinnersessie" in – enigiets wat jou dag opkikker. Maar dis nie al nie. Ou Bruce versprei sommer nuus oor plaaslike besighede ook. Die aanbiedings van die maand, koopbewyse, nuwe produkte… vra maar vir Bruce. Hy sal weet. Dié inligting deel hy ook op sy sosialemediakanale. ʼn Paar vlieë met een klap.
Die idee van die Rooi Mobiel is gebore gedurende die COVID-19-pandemie toe Bruce sy besigheid se deure weens finansiële druk moes toemaak. Hy moes ʼn plan maak om brood vir sy gesin op die tafel te sit. Sy skoonma het haar kar (die rooi Toyota) vir hom beskikbaar gemaak om mense te kan rondry, en so het die vervoerdiens ontstaan. “Ek moes aan ʼn unieke manier dink om meer kliënte te werf. Die diens is die Rooi Mobiel gedoop, en ek het begin om foto’s en videogrepe van gesprekke op sosiale media te plaas. Mense het vinnig hierna begin verwys as 'skinnersessies'. Die gemeenskap het opgewonde geraak oor dié bemarkingstrategie. ʼn Plaaslike bande-onderneming het óók ingekoop in die idee en Peter Benn Tyres is ʼn borg vir die mobiel,” sê Bruce.
Moenie vir Bruce in die gesit vat deur te sê hy bedryf ʼn taxidiens nie. “Nee man, ek vervoer mense, en hulle betaal vir goeie geselskap,” skerts hy. Bruce is ʼn aktiewe lid van die ATKV-tak Edik en deur sy vervoerdiens deel hy ook boeke uit vir kinders wat die nie kan bekostig nie, om só ʼn leeskultuur onder kinders en jongmense te bevorder.
Goeie goed is dalk nié so skaars soos die oumense wou voorgee nie. Bruce is bewys dat ʼn man kan opstaan uit moeilike omstandighede en boonop ʼn gemeenskap kan moed inpraat.
Met die Rooi Mobiel op hul voorstoep hoef die mense van Kariega nie te wonder waar die volgende brokkie goeie nuus of leesstof vir ʼn kind vandaan gaan kom nie.