Laat dit dreun: RUK EN RYM-semifinaliste bekend
Hoor jy die gedawer en die pols van alternatiewe musikante regoor Suid-Afrika, in aantog na die Taalgenoot-RUK EN RYM-semifinale?
Nadat kunstenaars en musiekgroepe vroeër vanjaar genooi is om in te skryf vir hierdie nuwe kompetisie, losweg geskoei op die destydse Rockspaaider-kompetisie wat deur MK en JIP aangebied is, het klankskeppende kunstenaars wat alternatiewe musiek met Afrikaanse lirieke maak die keurpaneel stomgeslaan met melodieë en lirieke wat spreek van Suid-Afrika se ryk talentpoel sover dit alternatiewe musiek betref.
Die keurpaneel, wat bestaan het uit Hunter Kennedy (Fokofpolisiekar/Die Heuwels Fantasties), Peach van Pletzen (Van Pletzen/Bittereinder), Jerome Rex (organiseerder van Expression Session en ATKV-Crescendo-vennoot) en Jaco van der Merwe (Bittereinder/Walkie Talkie), het oor die afgelope paar weke deur die inskrywings gesif. Taalgenoot-RUK EN RYM is verheug om nou die kunstenaars en groepe aan te kondig wat op 16 en 23 September sal wedywer om tydens die finale ronde van die kompetisie die Taalgenoot-RUK EN RYM-kroon te wen. Daarmee saam kry die wenner die geleentheid te kry om twee snitte saam met Peach van Pletzen by Planet Awesome in Johannesburg op te neem en een musiekvideo te vervaardig saam met André Badenhorst en Alan Sayers. Die naaswenner wen een snit by Planet Awesome.
Jaco van der Merwe, hooforganiseerder van Taalgenoot-RUK EN RYM, sê die keurpaneel is bemoedig deur die groot hoeveelheid alternatiewe kunstenaars en groepe wat ingeskryf het.
“Ná ons deur die meer as 70 inskrywings geluister het, is die keurpaneel van voor af opgewonde oor die toekoms. Ons kan nie wag om die semifinaliste op die verhoog te sien en te hoor nie! Ons is almal so bly oor die platform wat deur hierdie kompetisie geskep word.”
Die semifinaliste vir Taalgenoot-RUK EN RYM 2023 is:
- Bcom
- De Pozi
- ETG
- Hendriekx
- Jacques Leonard
- Kobus.
- Kristi Steyn
- Liv Die
- Lode Vickus
- Mike r3ps
- Onlogies
- PARKIEGRA$
- Reggie Peace
- Richii
- SAMPAULE
- Shongololo
- Soms ’n Fantasie
- V.I.T.O
Taalgenoot-RUK EN RYM se eerste semifinaal vind op 16 September om 15:00 by Railways Café in Centurion plaas en die tweede semifinaal begin om 12:00 op 23 September by Jarr Bar in Pretoria.
Die Taalgenoot-RUK EN RYM-finaal vind om 14:00 op 30 September by Sognage in Johannesburg plaas.
Kaartjies vir die semifinale en finale rondes is binnekort aanlyn beskikbaar, maar sal ook by die deur te koop aangebied word.
Taalgenoot-RUK EN RYM is trots daarop om op hierdie manier te kan bydra tot die groei van Afrikaanse alternatiewe musiek in Suid-Afrika – moenie die geleentheid misloop om hierdie opwindende groep alternatiewe kunstenaars lewendig op die verhoog te sien nie!