Skip to main content

Wanneer ons vanjaar Menseregtedag vier, is dit teen die somber agtergrond van verskeie menseregtevergrype, plaaslik sowel as internasionaal.

Op sosiale media, in koerante en op nuuskanale word ons gebombardeer met grusame beelde uit die Russies-Oekraïense oorlog. Terwyl duisende vlugtelinge die Oekraïne verlaat en met ope arms deur ander lande verwelkom word, is vlugtelinge uit ander lande minder gelukkig en dikwels die slagoffers en teikens van vreemdelingehaat. Boonop steier die wêreld steeds onder die gevolge van ’n dodelike pandemie en streng inperkings, wat gelei het tot ekonomiese ineenstortings, ongekende werkverliese, grootskaalse armoede en ’n kollektiewe trauma wat nog lank met die mensdom gaan wees.

Voeg hierby Suid-Afrika se unieke ekonomiese, politieke en maatskaplike probleme en uitdagings, onder andere veroorsaak deur staatskaping, die grootskaalse wanaanwending van belasting en wetteloosheid, en jy sal saamstem dat Menseregtedagvieringe vanjaar meer as net leë woorde moet wees. Want ons word gekonfronteer deur ’n taamlik troostelose prentjie as ons na die wêreld om ons kyk.

Tog durf ons nie moed en hoop verloor nie. Inteendeel.

Dis ’n goeie tyd om herinner te word aan die wyse woorde van wyle oudpres. Nelson Mandela. Hy het gesê: “Jy sal meer regkry in hierdie wêreld deur dade van genade as deur vergelding.”

By die ATKV is ons maar te goed bekend met dade van genade. Ons meer as 300 takke landwyd en in Namibië het die afgelope meer as 92 jaar nie net hele gemeenskappe gehelp nie, maar ook honderde skole en duisende individue deur projekte wat wissel van vroeëkinderontwikkeling en die uitdeel van die Vriende van Afrikaans (VVA) se boektrommels by verdienstelike skole en kleuterskole, tot volwasse onderrig en voedingskemas. Die ATKV-takke se wye verskeidenheid aksies en projekte demonstreer daagliks hoe ’n mens omgee kan uitleef, onderlinge begrip kan kweek en basiese menseregte kan bevorder terwyl jy gemeenskappe saamsnoer.

Ook op nasionale vlak bied die ATKV verskeie projekte aan – sommige al vir meer as 50 jaar – waardeur ons nie net die Afrikaanse taal en kultuur bevorder nie, maar ook deelnemers se menswaardigheid en selfvertroue ’n groot hupstoot gee. En hoe kan ons oor menseregte praat as ons menswaardigheid uit die oog verloor?

Die afgelope twee jaar het niemand onaangeraak gelaat nie. Ons daaglikse manier van doen en dink moes verander, en ook die ATKV moes verander om te oorleef. Maar alles was nie net sleg nie: die gedwonge verandering het ook gelei tot onverwagse bonusse, soos om nuwe gehore te bereik danksy moderne tegnologie.

Mag die nuwe wêreld wat ons nou gedwing word om te trotseer, ons inspireer om anders te kyk na die uitdagings wat ons moet aandurf. Nie net in ons persoonlike lewe nie, maar ook in ons gemeenskappe en in ons land. Mag ons meer deernis ontwikkel vir mekaar, en die hand van vriendskap na mekaar uitsteek. Op hierdie manier kan ons verseker dat menseregte nie net nog ’n leë woord bly nie, maar ’n werklikheid word vir alle Suid-Afrikaners.