Lexi Sithole spel haar pad na ATKV-eindronde
Vir die 12-jarige Lexi Sithole van Bloemfontein is Afrikaans dalk nie haar huistaal nie, maar haar liefde vir tale en haar vasberadenheid om nuwe woorde te leer het haar tot die top van die ATKV se Afrikaanse spelkompetisie in die Vrystaat geneem.
Die graad 7-leerder van die President Brand Primêre Skool het die Vrystaatse kompetisie gewen en haar plek in die nasionale eindronde in Oktober bespreek, waar sy teen die wenners van die ander provinsies sal meeding.
Vir Lexi was die oorwinning ’n besondere oomblik.
“Ek was uiters geskok, maar terselfdertyd bly,” sê sy oor die oomblik toe sy besef dat sy die kompetisie gewen het.
Haar prestasie is des te meer merkwaardig omdat Afrikaans nie haar huistaal is nie. Tog het die taal ’n spesiale plek by haar gekry.
“Ek is mal daaroor om ander tale aan te leer en Afrikaans is een van die tale wat altyd vir my uitgestaan het,” sê Lexi.
Dié liefde vir tale het haar gemotiveer om haar Afrikaans verder te ontwikkel en haarself aan die uitdagende spelkompetisie te onderwerp.
Sy het ook hard gewerk om vir die kompetisie voor te berei, met ondersteuning van die mense naaste aan haar.
“My ma en juffrou het saam met my geoefen,” vertel Lexi.
Een woord het haar egter behoorlik laat kopkrap.
“Die woord waarmee ek die meeste gesukkel het, was ‘narkotiseur’,” sê sy.
Dit het haar uiteindelik nie gekeer om die Vrystaatse titel in te palm nie, en nou lê ’n nog groter uitdaging voor wanneer sy in Oktober aan die nasionale eindronde deelneem.
Lexi weet presies wat sy daaruit wil kry.
“My grootste droom is om soveel as moontlik te spel en ek hoop om verskillende woorde te leer wat ek voorheen nie geken het nie,” vertel sy.
Haar benadering weerspieël presies wat die ATKV se spelkompetisie beoog: om leerders op ’n prettige en uitdagende manier aan Afrikaans bloot te stel, hul woordeskat uit te brei en ’n liefde vir taal te kweek.
Lexi se verhaal wys ook dat ’n taal nie noodwendig jou huistaal hoef te wees voordat jy ’n besondere liefde daarvoor kan ontwikkel nie. Met belangstelling, ondersteuning en baie oefening kan nuwe woorde en tale nuwe wêrelde oopmaak.
Vir hierdie jong Bloemfonteiner is die reis egter nog lank nie verby nie. Die nasionale eindronde wag en saam met dit die geleentheid om nog meer woorde te ontdek, te leer en – natuurlik – reg te spel.
En as Lexi se woorde enige aanduiding is, gaan sy die uitdaging met groot entoesiasme aanpak.