Lundi Khoisan: ’n Lêkke’ mens

Die ATKV het vier “lekker” landgenote ingespan om sy nuwe veldtog vlytig aan die volk oor te dra. Met die tema “Belê in jouself, belê in die toekoms” en die hutsmerk #weesdieverskil wil die vereniging sy strewe daarna om in Afrikaans ’n verskil te maak wyd laat weerklink.
Lundi Khoisan is een van dié vier en het geen bekendstelling nodig nie. Die ATKV het ’n bietjie met haar gesels om meer uit te vind oor haar belangstellings.
1. Wat is jou gunsteling- Afrikaanse woord?
Lekker, maar jy moet dit lêkke’ plat uitspreek.
2. Wat dink jy van die voortbestaan van Afrikaans en die diskoers daaroor?
Dit is belangrik dat ons die taaldebat lewendig hou. Afrikaans is so eie aan ons land en mense – dit het ’n reg om voort te bestaan en beskerm te word.
3. Wie is jou gunsteling- Afrikaanse sanger?
Francois van Coke & sy band F*kofpolisiekar.
4. Hoe dink jy kan jy ’n verskil in Suid-Afrika maak?
Deur voluit myself te wees in terme van my persoonlikheid, aksent en dialek as TV- en radioaanbieder en lektor, hoop ek om mense lief te maak vir die diversiteit van Afrikaans en só alle Afrikaanssprekendes te verenig. Ek glip selfs ’n bietjie Afrikaans op my Engelse radioprogram in, om ’n liefde vir die taal en kultuur te kweek by diegene wat dit as ’n tweede of derde taal praat.
5. Hoe belê jy in jouself?
In hierdie stadium belê ek in myself deur verder te studeer, sodat ek ’n kenner in my veld kan wees.
6. Het jy ’n gunsteling- Afrikaanse gedig?
“What abou’ de lô?” deur Adam Small. Hierdie is ’n gedig wat my Ouma tot vandag steeds voordra in alledaagse gesprekke en dit lê my na aan die hart. Adam Small is ook van Wellington, waar ek getoë is en ons familienaam, Cavernelis, kom ook voor in sy boek Krismis van Map Jacobs.
7. Watter Afrikaanse skrywers lees jy graag? Is daar ’n boek wat vir jou uitstaan?
Ek lees graag niefiksie (wat ongelukkig dikwels in Engels gepubliseer word); ek het egter Deon Maas se Melk die heilige koeie vreeslik baie geniet.
8. Hoe sien jy die die rol van die ATKV in 2021?
Ek glo die kunste hou ons taal lewendig en met die ondersteuning van die ATKV en ander kultuurorganisasies kan ons meer boeke, teater, flieks en musiek skep om die taal blootstelling te gee en ambassadeurs vir die taal te skep wat deur hul onderskeie mediums en sosialemediaplatforms die taal op ’n cool manier ten toon stel.