Maak ’n Kaapsehoopse draai by Innibos Boekenaweek
Wat is nou lekkerder as ’n heerlike fees waar jy na hartelus na van Suid-Afrika se toptoneelproduksies kan kyk? Of dalk is jy ’n smulpaap en wil ’n roosterkoek met ’n sterk koppie boeretroos afsluk?
Of jy dit nou wil erken of nie, daar is ’n feeskat in ons almal, en by feeste soos Woordfees, Aardklop en Innibos kan jy gerus hierdie feestelik kietsie van jou loslaat – maar daar is ook net soveel ure in ’n dag, wat veroorsaak dat jy nie al die gesprekke en produksies op die feesprogram kan bywoon nie.
Daarom het die ATKV en die Innibos Kunstefees vanjaar besluit om een naweek spesiaal aan die letterkunde toe te wy.
Boekwurms en liefhebbers van die Afrikaanse letterkunde kan by die eerste Innibos Boekenaweek uitsien na drie dae propvol interessante boekgesprekke deur Suid-Afrika se topskrywers.
“Ons het vanjaar besluit om vir die ATKV-Boekeoase ’n nuwe baadjie by die Innibos Kunstefees aan te trek en dit eerder te skuif na ’n naweek waar letterkunde en boeke in al hul glorie gevier word,” sê Gerrie Lemmer, uitvoerende hoof: kultuur van die ATKV.
Volgens hom is die rede hiervoor dat feesgangers nie noodwendig by alles op die propvol feesprogram kan uitkom nie.
“Tussen al die fantastiese produksies kry mense byvoorbeeld nie kans om gesprekke deur hul gunstelingskrywers by te woon nie. Met hierdie naweek word die klem op letterkunde geplaas.”
Dié fees van boeke en woorde vind van Vrydag 1 September tot Sondag 3 September in Kaapsehoop plaas.
“By die ATKV besef ons maar te deeglik watter groot rol boeke en letterkunde speel in die ontwikkeling en vooruitgang van ’n nasie, want dit beïnvloed ons denke, maak ons wêrelde groter en maak ons harte oop.
“Daarom is dit belangrik om platforms soos die Innibos Boekefees te ondersteun en ander geleenthede by kunstefeeste te skep,” sê Gerrie.
Die program skop af met die bekendstelling van Dana Snyman se jongste boek, Die binneland in, om 15:00 op Vrydag 1 September. Die Bloemfonteinse skrywerfilosoof Johann Rossouw stel daarna sy splinternuwe boek, Sluitstuk, bekend, waarna die fokus na Afrika-avonture verskuif met Tony Park se Vendetta, ook pas op die rakke. Die aand word afgesluit met ’n Filosofiekafee.
Die rou en soms skokkende stories van Suid-Afrikaanse mans wat in die 1970’s en 1980’s verplig is om weermagdiens te verrig, kom in die eerste boekbespreking (Diensplig deur Anelia Heese) op Saterdag 2 September om 09:00 onder die vergrootglas. Dan volg die Kaapsehoopse skrywer Alita Steenkamp se Deur die vuur, Carina Stander kom gesels oor haar meesleurende Bergengel-reeks en bring van haar kunswerke saam, en SJ Naudé, ontvanger van die Hertzogpryswenner vir prosa verlede jaar, stel sy boek Van vaders en vlugtelinge bekend.
Nóg ’n Hertzogpryswenner, die digter Johan Myburg, en Tom Dreyer, wat pas sy buiging as debuutdigter gemaak het, gesels met mekaar oor onder meer hul onderskeie bundels Narreskip en Nou in infrarooi. Sondagoggend vertel Stefaans Coetzee meer oor sy boek Onbeskryflike genade en waarom hy méér is as sy donker verlede wat moord en tronkstraf insluit.
Die Laeveldse groep digters van Words in My Mouth Poetry Slam sal ook Saterdag hul slag wys. Een van die hoogtepunte van die fees sal beslis ook wees wanneer Susan Booyens, joernalis en die wenner van die meeste prysgeld nóg op Wie word ’n miljoenêr? lesers se boekkennis en meer gaan toets in die letterkunde-vasvra.
Die Innibos Boekenaweek op Kaapsehoop kos R500 (dit sluit alle boekgesprekke oor die naweek in) of R50 per boekgesprek. Gert Vlok Nel se vertoning Saterdagaand kos R150. Kaartjies is by Quicket te koop.
Verblyf is beskikbaar by ’n verskeidenheid gastehuise en selfsorgplekke in Kaapsehoop. Vir meer inligting oor die Innibos Boekenaweek, kontak Annemarie van der Walt by 083 289 3823.