Marsha Bothma se enkelsnit binnekort beskikbaar
Marsha Bothma, ’n finalis in 2022 se ATKV-Crescendo, sing al vandat sy agt jaar oud is en het op twaalfjarige ouderdom haar eie liedjies begin skryf. Nou is daar ’n mini-album op pad, met die enkelsnit “Hy lig my op!” wat op 23 Februarie uitgereik word.
“Hy lig my op” het ’n heerlike, positiewe reggae-ritme, maar die lied kom met ’n pynlike verlede. Marsha is een van te veel Suid-Afrikaanse vroue wat geslagsgeweld ervaar het, maar sy het opstaan. God het haar opgelig – sy is nie meer ’n slagoffer nie.
Sy sê “Hy lig my op” praat oor genesing. Sy voel weer waardig nadat sy die lewe se uitdagings die hoof gebied het.
Hierdie positiewe mens leef haar boodskap op verskillende maniere uit. Marsha het ’n honneurs in joernalistiek én ’n honneurs in teologie en spesialiseer in jeugwerk. Haar moedertaal is Engels en haar eerste enkelsnit was “Stronger”, wat volgens haar deel een was van “Hy lig my op”. Dit gaan oor God wat haar sterker maak.
In 2022 was Marsha deel van die ATKV-Crescendo se mentorskapprogram en daar het sy “Vlam in my hart” afgerond en opgeneem.
Die mini-album wat op 1 Maart vrygestel word, heet Gereed, want dit is presies wat Marsha Bothma is. Op dieselfde dag sal die musiekvideo van “Hy lig my op” bekendgestel word.
Volgens Morne van Staden, projek-koördineer van ATKV-Crescendo, is Marsha een van die finaliste aan wie die ATKV opleiding en toe ’n begroting gegee het om hulle drome na te jaag.
Marsha het William Jacobs as haar musiekregisseur gekies. Eddy Strings het vir haar kitaar gespeel, Anthon Mannel het trom geslaan en Donovan Dyers was op baskitaar. Jürgen von Wechmar, van Sunset Recording Studios, en Helmut Meijer het haar snitte vervaardig.
In 2024 is ATKV-Crescendo 50 jaar oud. Daarom is Marsha ook gevra om hulde te bring aan ’n vorige wenner van ATKV-Crescendo. Sy het Christa Steyn se “Ek wil vir jou” gekies en het dit toe saam met Anna Davel opgeneem.
Anna was vir baie jare by Crescendo betrokke as ’n mentor, en vertel dat Marsha se keuse van Christa Steyn se lied baie spesiaal was, want Christa was háár mentor toe sy ’n groentjie by Crescendo was. Daarom het sy dadelik ja gesê toe Marsha haar kontak.
“Ek is baie beïndruk met die verwerking wat hulle gedoen het,” sê Anna. “En hoe Marsha dit sing, want dit is ’n vars, nuwe weergawe.”
Morne van Staden sê: “Ek is werklik baie opgewonde oor Marsha se toekoms. Nie net oor haar talent nie, maar ook haar toewyding, haar sin vir besigheid, etiek en vir die gees waarmee sy alles aanpak. Dit en haar vermoë om die wêreld ’n mooier plek te maak.”
Die ATKV en Crescendo is gereed om hierdie wonderlike jong vrou aan die wêreld bekend te stel as ’n bewys van wat moontlik is wanneer jy jou drome volg, hard werk en in jouself glo.
Marsha Bothma is gereed om die wêreld te wys wie sy is, en bowenal is sy gereed vir die nuwe seisoen waarvoor God haar voorberei.
Is die wêreld gereed vir Marsha Bothma?
Marsha se sosialemediaskakels:
- YouTube: https://www.youtube.com/@marshabothma6291
- Facebook: https://www.facebook.com/marsha.c.leitch
- Instagram: @marshabothma
- Tiktok: @marsha.bothma
- X: @marshabothma