Matrikulant wen ’n Woordveertjie

’n Seun wat sy liefde vir lees met ander wou deel het die laaste agt jaar duisende boeke aan ander jong lesers geskenk.
Die ATKV kon dus nie anders nie as om ’n ATKV-Woordveertjie toe te ken aan die 17-jarige Sheldon Spear, ’n graad 12-leerder aan die Curro Waterstone College in Kibler Park in die suide van Johannesburg vir sy projek Need2Read.
“As deel van die ATKV-Woordveertjies gee ons elke jaar ’n Toekenning vir Leesbevordering aan ’n organisasie of persoon wat ’n bydrae maak tot die bevordering van lees. Sheldon is ’n absolute inspirasie en sy bydrae gaan nog lank in die lewe van ander jong mense eggo,” sê Sonél Brits, besturende direkteur van die ATKV-MSW.
“Die ATKV is besonder trots op hom en dankbaar dat hy die verskil lééf. Ek hoop dat hy ander sal inspireer om boeke te gebruik om die wêreld om hulle te verander.”
Sheldon was maar nege jaar oud toe hy Need2Read in Augustus 2014 begin het. Hy vertel dat hy lief is vir lees, en dus baie boeke gehad het wat hy ontgroei het.
“Ek het hierdie boeke gewoonlik vir my eie skool se biblioteek gegee, maar toe besluit om dit eerder aan behoeftige skole te skenk.”
Hy het ook ’n Facebookblad, Need2Read, begin om sy liefde vir lees met ander te deel. Só het die niewinsgewende organisasie Need2Read ontstaan.
Sosiale media is ’n kragtige platform en Need2Read se verhaal het soos ’n veldbrand versprei. Die groter gemeenskap in Alberton en Johannesburg-Suid het betrokke geraak en boeke het ingestroom, vertel Sheldon.
Hy het aanvanklik boeke aan behoeftige skole in sy onmiddellike omgewing geskenk, maar kort voor lank ook versoeke van en voorstelle oor ander skole ontvang. Sy aanvanklike doelwit was om 1 000 boeke teen die einde van 2014 in te samel, maar hy het hierdie doelwit reeds in Oktober 2014 behaal.
Hy het sy mikpunt van 2 500 boeke vir 2015 sommer vroeg in die jaar oortref. Hy is bekroon met ’n LeadSA Youth Hero-toekenning vir sy projek, en tydens ’n radio-onderhoud op 702 het die hoof- uitvoerende beampte van Exclusive Books ingebel en 1 500 boeke vir sy projek geskenk. Só kon Sheldon in 2015 uiteindelik byna 5 000 boeke aan behoeftige skole skenk.
Sheldon se projek het so gegroei dat hy in 2016 nie net 500 boeke aan die kinderkankersaal by die Charlotte Maxeke Hospitaal kon skenk nie, maar ook die eerste Need2Read-biblioteek in ’n vraghouer by die Boithuto Sorgsentrum in ’n informele nedersetting suid van Johannesburg kon inrig.
Need2Read het sedert 2014 verskeie boekprojekte aangepak en ook ’n hele paar biblioteke by skole, kinderhuise en hospitale ingerig of help inrig.
Sheldon hoop om die veertiende Need2Read-biblioteek in Oktober 2022 te open.
“Elke biblioteek is vir my so spesiaal omdat ek soveel leer tydens die hele ervaring. Dis ook vir my opwindend om my liefde vir lees met ander leerders te deel.”
JK Rowling is Sheldon se gunstelingskrywer, en twee van haar aanhalings inspireer sy werk. Rowling het gesê: “Ek glo dat iets baie magies kan gebeur wanneer jy ’n goeie boek lees,” en ook: “As jy nie hou van lees nie, het jy nog net nie die regte boek gekry nie.” Hy moedig boekliefhebbers aan om ook hul liefde vir lees met diegene om hulle te deel. Kontak Sheldon op Need2Read se Facebookblad.
Vir meer inligting kontak Jeanné Naudé, ATKV-projekorganiseerder, by 083 232 7276.