Menseregtedag: Menswaardigheid, naasteliefde kernbelangrik
Op Menseregtedag is dit belangrik om te weet dat my menswees opgesluit lê in jóú menswees.
Dertig jaar gelede is ’n tussentydse Grondwet aanvaar om Suid-Afrika te lei na ’n nuwe konstitusionele bedeling. Die finale Grondwet, wat uiteindelik in 1996 aanvaar is, het beloof om substantiewe beskerming vir basiese menseregte te bied. Ons lewe in uitdagende tye waarin soveel mense se basiese menseregte, ook hier in Suid-Afrika, ontken word. Dink maar aan iets soos die reg op gesondheidsorg, voedsel, water en maatskaplike dienste, of die reg tot basiese behuising. Dan is daar ook die reg op vryheid, wat beteken dat enigeen die reg het om vry te wees van enige vorm van geweld – hetsy dit van openbare of private oorsprong is. Hierdie is maar ’n paar voorbeelde waar daar in hierdie mooi land van ons nog ver tekort geskiet word.
Uiteindelik bring hierdie gedagte – dat Suid-Afrika se Grondwet uiteindelik nie werklik daarin kon slaag om basiese menseregte te verseker nie – ’n mens by ’n kruispad: ’n punt waar jy selfondersoek moet doen. Want wanneer ons kyk na die woord “menseregte”, moet jy die meervoud in die woord raaklees: mense. Jy moet dus eers jouself in iemand anders se skoene plaas om te sien hoe jou woorde en dade hulle gaan beïnvloed voor jy iets sê of doen.
Wyle emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu het baanbrekerswerk ten opsigte van menseregte gedoen en het in 1984 met die Nobelprys vir Vrede erkenning ontvang vir sy onbaatsugtige diens. Hy het by geleentheid gesê: “Niemand van ons kom volledig gevorm die wêreld in nie. Ons sou nie geweet het hoe om te dink, of loop, of praat, of optree soos mense as ons dit nie geleer het by ander mense nie. Ons het ander mense nodig om mens te wees. Ek is, omdat ander mense is. ’n Mens is daarop geregtig om ’n stabiele gemeenskapslewe te hê, en die familie is die eerste van hierdie gemeenskappe.”
Die ATKV het die afgelope 93 jaar gewys dat ons onlosmaaklik deel is van die Suid-Afrikaanse gemeenskap. Ons beywer ons om met die werk wat ons doen daagliks ’n verskil te maak. Daar is meer as 300 ATKV-takke wat landswyd woeker en werk om mense op verskeie maniere te bemagtig, by te staan en op te hef.
Een van die ATKV se spogprojekte is die Vriende van Afrikaans (VVA) se boektrommelprojek, wat by kleuterskole en laerskole boektrommels uitdeel en vir ’n magdom kinders die geleentheid gee om vir die eerste keer in sy of haar lewe ’n boek in die hande te hou. ATKV-AbbAsorg het sentrums regoor die land waar wonderlike werk gedoen word en ’n veilige omgewing geskep word, waar kinders gehalte-opvoeding en -versorging kan ontvang.
Die ATKV se talle kultuurprojekte gee vlerke aan duisende kinders en jongmense om hulle talente op kultuurvlak te ontwikkel en ook broodnodige selfvertroue te ontwikkel.
Met die verskillende takprojekte en -aksies maak ATKV-takke regoor die land en in Namibië ’n verskil in baie mense se lewens. Op hierdie manier word ’n samelewing gevestig waar mense na mekaar uitreik en waar gemeenskappe geleer word om saam te staan.
Quinton Adams is ’n opvoedkundige sielkundige van die Wes-Kaap wat al meer as 17 jaar lank in gemeenskappe in die Wes-Kaap werk. Hier staan hy bekend as die “the ShackBuilder” en help om houthuisies op te rig waar die behuisingsnood besonder groot is en mense al jare wag om in iets anders as ’n sinkplaatkrot te bly.
Quinton sê, vir hom gaan dit nie oor huise bou nie – dit gaan oor die herstel van menswaardigheid, en menswaardigheid is een van die kernelemente van menseregte. “My werk as opvoedkundige sielkundige en as shack builder is geskoei op die herstel van menswaardigheid. Binne die konteks van armoede moet ’n mens kyk na die hele ontmenslikingsproses. Wanneer ’n mens nie kos of slaapplek het nie, is dit die begin van ontmensliking. Werkloosheid stroop mense ook van hulle menswaardigheid, want waarvoor staan hulle op in die oggend? Ons werklose jeug sit op moedverloor se vlakte en dit is tyd dat ons hande vat om te transformeer.
“Begin klein en maak ’n verskil in een mens se lewe. Begin om een familie se omstandighede te verbeter. ’n Jong meisie wat nie werk het nie, word deur haar vriend of kêrel verkrag of aangerand omdat sy nie geld het nie en vasgevang is in die web van geslagsgeweld. Gee vir daardie meisie ’n werk, leer vir haar vaardighede, sodat sy indiensneembaar kan wees.”
Quinton reken mense moet ophou wag vir die regering om dinge beter te maak. Dit is tyd dat ons almal aktiewe deelnemers moet wees aan hierdie veranderinge om die uitkoms van die land te bepaal. Die burgerlike samelewing het in die verlede, soos tydens die Covid-19-pandemie, bewys dat hulle in staat is om ’n verskil te maak.
“Die tyd om ’n toeskouer in hierdie land te wees, is verby. Spring uit en gaan transformeer,” sê Quinton.
Schalk van Heerden se boek, Betereinder: Wees die verskil, het tans almal aan die praat, juis omdat dit mense aanmoedig om naasteliefde en goeie buurmanskap prakties uit te leef. Vir Schalk is dit belangrik om op Menseregtedag te fokus op die beginsel wat sê: My menswees lê opgesluit in jou menswees.
“Menseregte is so belangrik. Aan die een kant is daar die pragmatiese beskouing, wat sê dat menseregte die fondasie vorm vir ’n stabiele samelewing, en as ek dink aan my eie kinders se veiligheid en interaksie en sosiale kohesie, moet ek daarvoor veg. Maar eintlik begin menseregte by die Bybelse beginsel van naasteliefde. Veral waar dit ons leer om juis diegene wat ver is, ons naaste maak. Dink maar aan die barmhartige Samaritaan.
“In plaas daarvan om na die regering te kyk as die mense wat dienste verskaf en menseregte moet verseker, moet ons besef, om ’n ware demokrasie te wees, gaan die wye bevolking op voetsoolvlak moet begin om hierdie dinge uit te leef. Ek kan nie van president Ramaphosa verwag om menseregte te verseker as dit my nie aanraak wanneer dogtertjies nie veilig is nie, of as kindertjies honger gaan slaap, of as daar onregverdigheid in die hele bestel is nie.”
Schalk sê dit is belangrik om te weet dat menseregte eintlik gaan oor menswaardigheid, daarom moet ons met nuwe oë daarna kyk. Ons moenie bloot net jammer wees vir iemand en neerkyk op hom nie, maar eerstens vra wat jy by daardie persoon kan leer. Op dié manier word dit ’n tweerigting-aksie.
“Dis belangrik om te kyk wat is my minderheidsregte en wat is my voorregte. Dan sal jy gou sien hoe geseënd jy is met ’n klomp dinge wat jy kan deel – tyd, vaardighede, geld, hulpbronne. Op ’n praktiese vlak beteken dit om seker te maak elke kind in hierdie land het ’n bal om mee te speel en elke jongmens het data en ’n slimfoon om toegang tot kennis te hê. Die dag wanneer ons dít begin deel, help ons om die uitleef van menseregte in ons land deel van ons samelewing te maak.”