Modeparade laat kollig val op mense met gestremdhede

November is die bewustheidsmaand vir mense wat leef met gestremdhede. Die doel is om die kollig te laat val op kwessies wat mense met gestremdhede raak. Om die maand te vier en deel te wees van die bewusmakingsveldtog, het die ATKV-tak Sommer Net Ons “Dit is ek” aangebied – ’n modeparade ter ondersteuning van mense met spesiale behoeftes. Die geleentheid was ’n fondsinsameling met die doel om ’n persentasie van die inkomste terug te gee aan belanghebbende partye. Dit is in samewerking met die George-munisipaliteit, DeafSA, die Vereniging vir Persone met Gestremdhede en Go George aangebied.
Volgens Ruzanne van Beulen, takvoorsitter, is hulle fokus op die ontwikkeling, opbou en herbou van alle gebroke strukture in die gemeenskap van Pacaltsdorp in George. “Ons glo in ’n beter toekoms vir ons kinders en help tans ons laerskole met leesprogramme. Ons doel met hierdie program is om mense op te voed, in te lig en hopelik die denkwyse oor gestremdhede te verander,” sê Ruzanne.
Sy sê elke mens is uniek en spesiaal op sy eie manier. “Daarom is ons tema vir die modeparade ‘Dit is ek’. Dit beteken, hoewel ek ‘anders’ is, is dit steeds ék,” sê sy.
Gestremdheid lê Ruzanne (52) na aan die hart. Sy is op veertigjarige ouderdom met rumatoïede artritis gediagnoseer. Dié siekte val haar gewrigte en immuunstelsel aan. Daar is tans geen geneesmiddel hiervoor nie, maar die simptome van die siekte kan beheer word. Sy vertel, “In my werksplek is ek onmiddellik as gestremd gesien en moes motiveer waarom ek ná dertien jaar in die maatskappy ’n volle salaris verdien. Ek doen administratiewe werk en is ’n toesighouer in my afdeling en doen nog al my werk soos voorheen. Ek moes my visie verskuif van myself af buitentoe. Ek moes besluit: óf ek wórd my diagnose, óf ek maak ’n verskil. In dít moes ek leer om myself te aanvaar en lief te hê net soos ek is, voordat ander mense my kan aanvaar. Hierdie pad het my dankbaarheid geleer – ook dankbaarheid om deel te wees van die ATKV, wat verandering teweegbring op ’n innoverende manier.”
As jy ook deel van die verskil wil wees en by die ATKV wil inskakel, of ’n navraag het oor ATKV-projekte, kan jy gerus ’n draai maak op die webwerf, www.atkv.org.za. Om jou naaste ATKV-tak te vind, besoek atkv.org.za/ons-storie/gemeenskap/. Indien jy belangstel om ’n ATKV-tak te stig, stuur ’n e-pos aan atkv@atkv.org.za.