Moedertaalonderrig: ‘Tyd vir beplan is verby’

Dumelang bana ke kopa le ntshe dibuka tsa lona. Kajeno re tlo ithuta ka motlakase.
As bogenoemde vir jou Grieks (Sesotho) is, dink jou vir ’n oomblik in hoe ’n kind voel wat nie in sy moedertaal onderrig ontvang nie.
Om moeilike begrippe en leerwerk in ’n ander taal te moet baasraak, is die uitdaging wat honderdduisende leerders daagliks in die gesig staar.
Die ATKV-tak Vereeniging het ná ’n vergadering met Jaco Deacon, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS), en Sonél Brits, besturende direkteur: ATKV-MSW, besluit om ’n projek van stapel te stuur om die belangrikheid van moedertaalonderrig te beklemtoon.
“Ons wou wys hoe moeilik dit vir ’n onderwyser is om onderrig te gee aan ’n kind wat nie die taal verstaan waarin hy geleer word nie,” sê Frik Roets, voorsitter van die ATKV-tak Vereeniging.
Die tak het die projek op Wêreldonderwysersdag afgeskop.
“Die belangrikheid van moedertaalonderrig kan nie genoeg onderstreep word nie. As ’n leerder in sy moedertaal skoolgaan, word hy nie net ’n beter leerder nie, maar ook later ’n beter student en landsburger.”
Die ATKV lê deurlopend klem op die impak wat moedertaalonderrig het. Wanneer leerders na ’n skool gestuur word waar hul opvoeding voortgesit word in hul moedertaal, word die grondslag vir beter kognitiewe en sosiale ontwikkeling gelê. Moedertaalonderrig bevorder ook geletterdheid en help om fundamentele vaardighede soos kritiese denke vas te lê.
Frik en sy span het onderwysers by verskeie skole – onder meer die Laerskool Risiville in Meyerton en die Laerskool Vryheidsmonument in Vereeniging – uitgenooi om ’n les in ’n ander taal aan te bied. Die leerders in die klas het natuurlik van g’n sout of water geweet nie. Nodeloos om te sê, was hul reaksie baie interessant. Leerders wat lede is van die ATKV-jeugtak Mondjievol was in die klas om die leerders se reaksie op kamera vas te vang.
“Ons het baie goeie terugvoer ontvang en dit het ons oë oopgemaak om te sien wat gebeur met ’n kind as hy nie verstaan wat die onderwyser vir hom sê nie.”
Die tak beplan nou om in samewerking met die ATKV-hoofkantoor hierdie video-opnames te verwerk in ’n videoreeks. Frik, Jaco, Sonél en skoolhoofde gaan ook aan die videoreeks deelneem.
“In die eerste video gaan ons gesels oor wat moedertaalonderrig beteken; in die tweede video uitdagings bespreek; en in die derde video oplossings.”
“Die tyd vir beplan is verby. Ons moet nou ons planne implementeer.
“Dit is vir ons belangrik dat die video’s professioneel vervaardig word, sodat die ATKV en FEDSAS dit enige tyd kan gebruik om die saak van moedertaalonderrig te bevorder.”
Frik hoop ook dat die video sy weg sal vind tot by Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, om klem te lê op die noodsaaklikheid van moedertaalonderrig.
*As jy gewonder het oor die sin in Sesotho hierbo, dit beteken: “Goeiemôre, klas, haal asseblief julle boeke uit. Vandag gaan ons leer oor elektrisiteit.”