’n Klein tak wat ’n groot verskil maak

Die ATKV-tak Gariep Dam, onder leierskap van Alta van Niekerk, ken van uitdagings. Die klein dorpie Gariep Dam, voorheen bekend as Oranjekrag, is sowat 5 kilometer vanaf die N1 geleë en is in 1965 uitgelê terwyl die Gariepdam in aanbou was. Die inwonertal van hierdie dorpie is veel minder as 500. Tans het die ATKV-tak Gariep Dam slegs sewe lede, maar dit is ’n spannetjie wat werklik ’n verskil wil maak. Alta van Niekerk vertel dat twee baie bedrywige lede, Theuns van der Merwe en Danie van Huyssteen, onderskeidelik in 2016 en 2017 oorlede is, wat ’n groot terugslag vir hulle tak was. Tog bly hulle besig met gemeenskapsprojekte en soek voortdurend nuwe geleenthede om die gemeenskap van hulp te wees.
Aan die begin van die jaar het die lede van die ATKV-tak Gariep Dam na die twee skole in die dorp gegaan en leesboekies aan die grondslagfase-leerders oorhandig. Alta vertel: “Die kinders se ogies het behoorlik geblink die dag toe ons met die boekies by die skool opdaag. Ons het ’n klompie boekies van die ATKV se Tippie-leesreeks by Gertjan Holtzhausen, streeksbestuurder by die ATKV, gekry. Hierdie leesboekies is werklikwaar uitstekend vir kinders wat leer lees en dit is vir die kinders besonder lekker om ’n boek van hulle eie te kan besit.
“Die kinders in ons gemeenskap kom eintlik uit ’n omgewing waar daar nie baie gelees word nie en hulle het op soveel gebiede ’n agterstand. Om te weet ’n mens kan soveel vreugde aan ’n kind verskaf met iets soos ’n leesboek, is vir ons kosbaar. Ons sal dit graag wil opvolg met dalk ’n spelkompetisie aanstaande jaar of die geleentheid vir die kinders skep om vir ons te kom lees.”
Die twee skole wat boekies ontvang het, is Oranjekrag Skool en Gariep Dam Christian School. Laasgenoemde is ’n Engelse privaatskool in die dorp. Oranjekrag Skool het vanjaar vir die heel eerste keer ’n matriekgroep, nadat dit vroeër net tot Graad 9 gegaan het. Die skool het ’n paar jaar gelede in ’n splinternuwe skoolgebou ingetrek en al kom baie van die leerders uit moeilike omstandighede, is hulle altyd baie netjies aangetrek.
Ten spyte daarvan dat hulle ’n klein tak is, probeer hulle altyd hul beste, sê Alta. Nog ’n projek waarby hulle tak onlangs betrokke was, is ’n ouetehuis op Bethulie, sowat 50 kilometer van Gariep Dam af. Hulle het daar toiletware aan die inwoners gaan uitdeel. Verlede jaar het hulle ook vir Oranjekrag Skool ’n paar vullisdromme geskenk, want daar was ’n groot behoefte daaraan.
“Ons werk hard daaraan om ons tak aan die gang te hou,” sê Alta. “Die dorpie Gariep Dam is ’n heerlike halfweghuis vir mense wat Kaap toe of terug reis en hier is heelwat gastehuise en ook ’n Forever Resorts-vakansieoord. Ons het ’n kleinteater by die Rolbalklub en daar is van tyd tot tyd kunstenaars wat bereid is om by ons vir ’n klein gehoor te kom optree. Al kan ons nie ’n groot verskil maak nie, is dit tog heerlik om die goeie gevolge te sien wanneer ons ’n uitreik-aksie, soos die uitdeel van die leesboekies, aanpak.”