’n Nuwe wêreld by VS Kunstefees
Die ATKV se naam was vanjaar oral op die Vrystaat Kunstefees te sien – van die Wynand Mouton-teater tot die Boeke-oase. Die groter prentjie lê egter nie in die borge bo die deure nie; eerder in wat ín daardie ruimtes gebeur het. Produksies, gesprekke, nuwe stemme en stories wat ’n gehoor gevind het.
Dit is in sulke oomblikke dat die ATKV se betrokkenheid by vanjaar se Vrystaat Kunstefees die duidelikste sigbaar geword het. As vennoot en borg was die organisasie betrokke by die ATKV-Boeke-oase, die ATKV-Wynand Mouton-teater en die ATKV-Amfiteater, asook by teaterproduksies en literêre gesprekke.
Vir Gerrie Lemmer, uitvoerende hoof: kultuur van die ATKV, gaan dié betrokkenheid egter oor méér as die ruimtes wat die organisasie se naam dra. “Vir die ATKV is die Vrystaat Kunstefees veel meer as ’n viering van kuns en kultuur. Dit is ’n ruimte waar mense groei, stories gedeel word en nuwe moontlikhede ontstaan.”
Daardie stories het vanjaar in uiteenlopende vorme na vore gekom. In Die ander dogter, met Sandra Prinsloo, onder regie van Lara Foot, is ’n intieme verhaal van verlies en familie na die verhoog gebring. ’n Produksie soos Doolhof het weer ander vrae aan sy gehoor gestel en gewys hoe die fees ook ruimte kan maak vir werk wat jonger stemme en hedendaagse ervarings na die verhoog bring.
Dié verskeidenheid is vir Nita Cronjé, ATKV-koördineerder: feeste, belangrik. “Mense en hul taal kan nie geskei word nie. ’n Taal is sy sprekers, en sonder taal is die mens verlore. Afrikaans behoort aan al sy sprekers, en die grense wat taal in die verlede tussen sy sprekers geskep het, word toenemend afgebreek.”
By die Vrystaat Kunstefees word dié gedagte nie net op die verhoog sigbaar nie. Die ATKV-Boeke-oase het gedurende die literatuurfees ’n bymekaarkomplek geword vir skrywers, digters, denkers en lesers.
In “Woord en mag” het Thérèse Bartman en Fourie Botha oor hul digbundels en die manier waarop poësie betekenis uit ervaring kan skep, gesels. Hercules Boshoff en Pieter Duvenage het in “Denke aan die beweeg” die gesprek na filosofie en die uitdaging van verantwoordelike denke in ’n veranderende wêreld geneem.
Daar was ook gesprekke soos “Netwerk24: Agter die Opskrifte”, “Hulde aan Helde: Johann Lodewyk Marais” en “Ag man, dis lekker in die Army!”, asook ’n gesprek oor die toekoms van skolerugby in die Vrystaat. Die program het daarmee gewys dat ’n literatuurfees nie noodwendig net oor die publikasie van boeke hoef te gaan nie. Boeke en woorde kan ook die beginpunt wees vir gesprekke oor geskiedenis, media, identiteit en die wêreld waarin mense leef.
“Daar is min plekke waar die Afrikaanse taal, kunste en kreatiwiteit so gedy soos op die verhoog, in die filosofiese gesprekke oor boeke en selfs wanneer ’n mens deur die stalletjies dwaal,” sê Lemmer.
Vir Cronjé is dit ewe belangrik dat die Vrystaat Kunstefees nie bloot ’n ruimte word waar ’n bestaande gehoor elke jaar na bekende stories terugkeer nie. “Dit is nie ’n eksklusiewe ruimte nie. Ook nie ’n ‘veilige’ en voorspelbare ruimte nie. Die kunste is die spieël waarin ons na onsself kan kyk.”
Daarom moet daar volgens haar ook plek wees vir nuwe en alternatiewe stemme. Dit is hoe nuwe gehore gevorm word en hoe mense blootgestel word aan stories wat dalk buite hul eie ervaring lê. “Die kunste stel ons in staat om nuwe wêrelde te ontdek, binne en buite onsself.”
Die ATKV se betrokkenheid by vanjaar se Vrystaat Kunstefees het dus oor verskillende dele van die fees gestrek: van die teaterverhoog en amfiteater tot die gesprekke tussen skrywers, digters en denkers in die Boeke-oase.
Maar die waarde daarvan lê uiteindelik in wat binne daardie ruimtes gebeur. “Dit is in die kreatiwiteit van ander dat ons self groei,” sê Lemmer.
By die Vrystaat Kunstefees kry daardie kreatiwiteit ’n plek om tot uiting te kom. In ’n donker teater, rondom ’n boek, in ’n gesprek wat onverwags ’n ander rigting inslaan en in die ontmoeting met ’n verhaal wat ’n mens nog nie voorheen geken het nie.