Namibiese kreatiewes vereer by Pluimpie-toekennings

Vir die afgelope 26 jaar skep die ATKV-tak Windhoek die geleentheid om kreatiewe Namibiërs in die mediawêreld en diegene wat in Afrikaans skryf, dig en sing, te vereer. Die jaarlikse Pluimpie-toekennings, aangebied deur die ATKV-tak Windhoek, is die aand waarop almal wat manuskripte, digbundels of rubrieke ingeskryf het, beloon word vir hul harde werk. Vanjaar was geen uitsondering nie en op 7 September het die oorhandigings plaasgevind tydens ’n spoggerige gala-aand by die Windhoek Buitekluboord.
Leoni van Rensburg, voorsitter van die ATKV-tak Windhoek, sê dis vir hierdie tak besonder lekker om Namibiërs wat skeppend is in Afrikaans daarvoor te vereer of hulle aan te moedig om vol te hou daarmee. Die gedagte om hierdie geleentheid te skep, het byna 30 jaar gelede posgevat en is geïnspireer deur die ATKV in Suid-Afrika wat jaarliks skrywers, joernaliste, mediamense, dramaturge en digters bekroon met ATKV-Woordveertjies en ATKV-Mediaveertjies. Hulle wou iets soortgelyk vir die mense van Namibië doen.
“Ons wil graag hê die mense wat skeppend in Afrikaans werk, moet aanhou om dit te doen. Hulle moet weet hulle word raakgesien, en dit wat hulle doen, moet bewaar word vir ’n volgende geslag. Nie almal wat aan hierdie beoordeling deelneem, is gepubliseerde skrywers of digters nie, maar ons bewaar tog al die manuskripte wat vir ons ingestuur word en bind dit jaarliks saam in een bundel wat weer by die Afrikaanse kultuurhuis in Windhoek bewaar word,” verduidelik Leoni.
Die verskillende kategorieë waarin deelnemers hulle werk kan inskryf vir beoordeling, is drama, prosa en kinderverhale, digkuns, musiek (met onderafdelings vir liriekskrywers en sangers), radio-omroepers en publikasies (wat onderafdelings vir verslaggewers, dagblaaie en bylaes het).
Die werk wat ingestuur word, word deur kundiges beoordeel en dan word daar punte toegeken. Die toekennings bestaan uit drie kategorieë: Donsie-toekennings aan almal wat ’n punt van 60% tot 69% behaal, Pluimpie-toekennings vir almal met ’n punt van 70% tot 79% en dan ’n Veertjie-toekenning vir almal bo 80%. ’n Sertifikaat van deelname word ook toegeken aan diegene wie se punte nie hoog genoeg is vir een van die toekennings nie – dit dien as aanmoediging om weer te probeer en te skaaf aan hulle skryfwerk.
In die gedigte-kategorie is daar vanjaar vier Pluimpie-toekennings oorhandig, twee Donsie-toekennings en twee sertifikate van deelname. In die kategorie vir ongepubliseerde prosatekste het drie deelnemers Donsie-toekennings ontvang, twee het Pluimpie-toekennings gekry en die Veertjie-toekennings het gegaan aan Carina Becker en Ammie Walters.
In die afdeling vir selfgepubliseerde werke is daar drie Donsie-toekennings en drie Pluimpie-toekennings gemaak. Die sang- en lirieke-afdeling het net drie deelnemers gehad, waarvan twee Pluimpie-toekennings ontvang het en een ’n Donsie-toekenning.
By dieselfde geleentheid is daar ook ’n paar Klop op die skouer-toekennings uitgedeel. Hulle het gegaan aan Helge Schutz, ’n redakteur van Namibia Sport, wat onder meer in 2007 vereer is as Sportskrywer van die Jaar en wat ook in 2022 ’n boek oor die 100-jarige bestaan van die Wanderers-sportklub geskryf het. Die volgende Klop op die skouer-toekenning is gemaak aan Robert Nghipangelwa Kaxuxuena, ’n atletiekafrigter wat self tussen 2003 en 2012 nasionale kleure in atletiek vir Namibië behaal het. Van die atlete wat hy afrig, presteer uitstekend en een van hulle, Helalia Johannes, het reeds by drie Statebondspeles goue medaljes verwerf.
Die derde Klop op die skouer-toekenning het vanjaar gegaan aan Alinda LuMar, ’n sangeres wat al hoë hoogtes bereik het. Sy het in 2018 die Voice of Namibia-sangkompetisie begin om talent te ontgin, tesame met Voice of Namibia Kidz vir jong deelnemers.
Daar is ook vanjaar twee Afrikoon-toekennings gemaak. Die ATKV vereer graag mense wat werklik ’n verskil maak in die gemeenskap met hierdie besonderse toekenning. Vanjaar was Joan Smit en Christie Horn die ontvangers van Afrikoon-toekennings. Joan is deel van die Nasionale Olimpiese Komitee en is die Afrika-verteenwoordiger vir Wêreld-netbalontwikkeling. Sy is ook die sekretaris-generaal van die Namibiese Nasionale Olimpiese Komitee en ploeg geweldig baie terug in sportontwikkeling in Namibië.
Christie Horn is ook vereer met ’n Afrikoon en het homself onderskei op die gebied van jukskei, waaraan hy al meer as 50 jaar deelneem. Hy is tans die direkteur en voorsitter van Namibië Jukskei. Christie beywer hom baie sterk om hierdie sportsoort onder die jongmense van Namibië te bevorder.
Terugskouend op hierdie spesiale bekroningsaand, sê Leoni dat dit ’n voorreg bly om saam met haar tak so ’n funksie te kan aanbied. “Hier by die ATKV het ons ’n besondere passie vir Afrikaans, die taal en die kultuur. Dis vir ons heerlik om met hierdie geleentheid iets wat mooi en goed is en iets wat mense geniet, te vereer, maar ook aan mense erkenning te gee vir hulle harde werk.”
Om jou naaste ATKV-tak te vind, besoek atkv.org.za/ons-storie/gemeenskap/. Indien jy belangstel om ’n ATKV-tak te stig, stuur ’n e-pos aan atkv@atkv.org.za.