Noodhulpliga eersdaags weer onder ATKV-vaandel
Dat die Suid-Afrikaanse Noodhulpliga (SANL) weer onder die ATKV-vaandel inskuif, is soos ’n sirkel wat weer volmaak rond geslyp word. Só het Sonél Brits, besturende direkteur van die ATKV-MSW, net voor die afsluiting van die ATKV se algemene jaarvergadering op 22 Julie gesê.
Brits se aankondiging dat die Noodhulpliga, ’n niewinsgewende organisasie, weer by die ATKV ingelyf word, volg op ’n geleentheid wat op Vrydag 17 Julie plaasgevind het om dié voorgenome samesmelting te vier.
’n Tuiskoms
Tydens dié geleentheid het prof. Oppel Greeff, president van die SANL wat al meer as ’n halfeeu lank by die organisasie betrokke is, sy blydskap uitgespreek dat die Noodhulpliga weer terugkeer na waar dit oorspronklik ontstaan het.
“Dis vir my of ons nou tuiskom ná 91 jaar. Dis ’n blye dag. Ek is baie opgewonde daaroor en dis lekker om terug te wees by die ATKV, wat ek my hele lewe lank ook ken. Dis waar die Noodhulpliga hoort: by die ATKV waar hy begin het.
“Dit gaan vir ons wonderlik wees vorentoe, want die ATKV het die infrastruktuur wat die Noodhulpliga nie meer het nie. Ons werksveld het verander en ons kan nie meer ’n ledeorganisasie wees nie, slegs ’n opleidingsorganisasie. Die ATKV het takke en lede, en ons is baie dankbaar oor dié samewerking.”
Die SANL het in 2025 sy 90ste bestaansjaar gevier, terwyl die ATKV in 2025 95 jaar oud was. Die SANL is in April 1935 gestig met die doel om noodhulpopleiding aan die breë gemeenskap te verskaf. Die liga was die geesteskind van mnr. George Annandale Nezar, wat hom daarvoor beywer het dat mense eerstehulpvaardighede in sy moedertaal, Afrikaans, kon aanleer. Die ATKV het tydens hul sesde jaarvergadering met die ondersteuning van mnr. HJ Klopper, destydse voorsitter van die ATKV, op 17 April 1935 besluit om hul eie noodhulpliga van stapel te stuur. Die eerste tak van die liga is op 9 Augustus 1935 in Bloemfontein gestig.
Noodhulpopleiding wyd en syd
Brits en prof. Greeff het tydens die geleentheid ’n getuigskrif met die Noodhulpliga se leuse “In diens van die medemens” daarop geteken as simbool van die onderneming om deur die ATKV se infrastruktuur en die SANL se hulpbronne te verseker dat die belangrike werk wat die Noodhulpliga verrig ’n wyer voetspoor oor die land kan laat.
Noodhulpvaardighede is uiteindelik onontbeerlik vir elkeen, meen die Noodhulpliga se opleidingshoof, Marina Basson.
“In die eerste plek weet jy wat om te doen – dit vat daai angstigheid weg en jy kan onmiddellik optree, terwyl mense gewoonlik vries.”
Sy lê klem op die druk waaronder nooddienste as gevolg van Suid-Afrika se hoë ongeluksyfer verkeer, en noem dat noodhulpvaardighede om hierdie rede werklik die verskil tussen lewe en dood kan beteken.
“Daardie eerste paar minute moet daar ’n gekwalifiseerde persoon wees. Die brein leef net vier minute sonder suurstof, jy’t nie tyd om te wag nie,” vertel sy.
Hoof- operasionele bestuurder van die SANL, Hélène van Wyk, gaan akkoord oor die belangrikheid van noodhulpopleiding vir die publiek.
“Ek is geseënd met baie kleinkinders. Daardie gevoel van ek sit op die stoep en ek kyk vir hulle, en as hier iets gebeur, gaan ons weet wat om te doen. Jy weet, net daai gerustheid.”
Brits het na afloop van die viering gesê dié tuiskoms van die SANL maak vir die ATKV sin.
“Uit die ATKV se hoek en ons absolute fokus op gemeenskappe en vaardigheidsontwikkeling is hierdie ’n baie logiese samewerking. Dit gaan oor die beveiliging van gemeenskappe, en oor die feit dat ons ’n rol daarin kan speel om mense te bemagtig om in noodsituasies na mekaar te kan omsien. Omdat die Noodhulpliga uit die ATKV ontstaan het, voel dit vir my dis ’n baie mooi vol sirkel.”
Die effektiewe datum van die SANL se inlywing by die ATKV is 1 Oktober vanjaar.