Nuwe ATKV-kinderproduksie by 30ste KKNK
Die ATKV stap al ’n lang pad met die KKNK en belê jaarliks in verskeie projekte by die fees. Vanjaar het die ATKV ’n spesiale kinderproduksie ontwikkel ter viering van die KKNK se 30ste bestaansjaar.
Zonkie en die laaste boomhuis is ’n samewerkingsprojek tussen die ATKV en Swan Dive Collective, wat deur die aktrise en vervaardiger, Cindy Swanepoel, en skrywer en vervaardiger, Anél Wood, bedryf word.
Cindy vertolk die rol van Zonkie en verskeie ander karakters en behartig ook die choreografie, en Anél neem die teks en regie waar. Imile Wepener behartig die visuele ontwerp en bou die poppe en stelle. Lucinda Bosch van Die Melktert Kommissie is die komponis van die temalied.
Mercia Eksteen, hoofbestuurder: kommunikasie van die ATKV, sê: “Die ATKV belê in hierdie spesiale kinderproduksie omdat ons reeds nou by jong feesgangers ’n liefde vir kuns en kultuur wil kweek, maar veral vir lees omdat dit jou op wonderlike ontdekkingsreise kan neem.”
’n Aanhaling uit die feesgids is ’n goeie lusmaker vir die produksie: “Met toeters en fluitjies en ’n gesig so mooi geverf, trap Zonkie ’n fiets vol fieterjasies en bederf. Daar is skoenlappers wat fladder in die wolke bo haar kop, en ’n boomhuis vol stories wat oopmaak as sy stop! Dan vertel sy in rym terwyl goeters verskyn. Goggas en diere en plante en papiere! Liedjies en poppe en prentjies op stokke! Zonkie se vriende wil stories en geheime deel met die hoop dat grootmense weer sal speel en verbeel, en dat kinders sal leer om die ganse natuur te aanskou – asof elke tak, web en tentakel die wêreld van môre behou!”
Anél Wood skryf en vervaardig die afgelope 12 jaar kinder- en jeugteaterproduksies met gewilde werke soos Shakespeare in Afrikaans (2021-2025, AfriForum- en Wilge-teater), Murray and Me-boekverwerkings vir die verhoog (2022), en vele ander poppekas en opvoedkundige verhoogproduksies vir skole en plaaslike teater.
Sy dien ook as skrywer, medevervaardiger en mederegisseur van die ATKV se Die Doldraaiers-, Die Wonderlike Wêreld van Idi en Ome-, limerieke- en Storieboks-veldtogte. Sy is in 2023 as beste regisseur by die nasionale Pronk Pret-toneelfees aangewys.
Anél droom al jare oor ’n reisende vertoning wat kan oppak in ’n waentjie en enige plek kan stop en oopmaak om mense te betower.
“Ek dink ’n konsert op wiele kan mense en gemeenskappe bereik wat nie gewoonlik teaters kan besoek nie, met stories wat ontvlugting bied of impak maak.”
Anél glo kinders moet so vroeg moontlik by die teater betrek word, omdat dit diep verrykend is vir ’n kind om ’n lewendige vertoning te sien waar mense hul liggame, emosies en stemme saam met ander verhoogelemente inspan om wêrelde te skep en stories te vertel.
Cindy is ’n bekende aktrise met verskeie teaterproduksies, televisiereekse en films op haar kerfstok. Sy is ’n kranige poppemeester en het ’n internasionale diploma in teater-terapie en jare se werkervaring in skaduteater. Sy is ’n dinamiese beweegkunstenaar met die nodige vaardigheid en tegniek om verskeie stemme en karakters te vertolk.
Cindy vertel dat sy die naam “Zonkie” van ’n bandopname uit haar kinderdae onthou. Zonkie is deel van die boomhuis. Die boomhuis is deel van ’n boom, wat deel is van allerhande stories. Zonkie dra die boomhuis vol stories op haar rug en vertel dit aan die maats.
“Die boomhuis kry lewe in ’n magiese styl van interaktiewe storievertelling deur middel van skaduteater, mimiek, musiek, poppespel en papierkuns,” vertel Cindy.
Sy sê Zonkie wys vir ons hoe belangrik dit is om na diere, plante en insekte om te sien – in die stad en by die huis.
“Ons leef asof ons eerste hier was. Ons vergeet maklik dat daai klein spinnekoppie in die hoek daar is vir ’n rede. Zonkie maak ons weer bewus hiervan. Hierdie is ’n vertoning vir alle ouderdomme – ons wil hê grootmense moet weer voel soos kinders.”
Cindy vertel dat sy al vir jare met die idee rondloop van ’n boom wat kan verander in verskillende vorme van storievertelling.
“Zonkie is uiteindelik die manifestasie van jare se idees. Ek is so opgewonde om uiteidelik lewe te kan gee aan iets wat al so lank in my kop broei.”
Die produksie bestaan uit drie kortverhale en raak temas soos natuurbewaring, medeafhanklikheid tussen mens en natuur, diere-families en vele meer aan.
Imile Wepener se kuns pronk op verskeie projekte, insluitend bekende skrywers soos Jaco Jacobs, Dianne Stewart en Fanie Viljoen se boeke. Behalwe illustrasiekuns skep hy ook marionette, rekwisiete en dekor vir TV- en verhoogproduksies landswyd en was medeontwerper op die ATKV-Storieboks-reekse.
“Hierdie is ’n unieke projek – ietsie kunstig en vermaaklik wat ook belangrike boodskappe bevat. Elke keer wat ek met Cindy en Anél die stories en karakters bespreek, word ek so opgewonde oor die moontlikhede van hoe ons die stories kan uitbeeld,” vertel Imile.
Anél en Cindy sluit af: “Kinderteater kan maklik afgeskeep word met ’n goedkoop pruik en ’n paar ou rekwisiete. Ons wil kuns maak en ons wil hê die kinders moet saam met ons op hierdie reis gaan en wegraak in die wêreld van Zonkie. Ons doen hierdie projek om deel te wees van kinders se verbeelding en om ’n saadjie van verwondering te plant wat hopelik eendag groei wanneer hulle hul eie kinders teater toe neem.”
Zonkie en die laaste boomhuis is in Afrikaans en die vertonings is gratis. Dit word by die Klein KKNK-teater opgevoer op die volgende datums:
- 29 Maart om 10:30
- 30 Maart om 13:00
- 2 April om 13:00
- 4 April om 15:30
Zonkie maak ook by die RSG/ATKV-Kuierkol ’n draai en voer ’n lusmaker-vertoning op. Ná die KKNK reis Zonkie en die laaste boomhuis landwyd.