Nuwe tak se storieboekprojek nog net die begin

Wat ’n seën is dit om lief te wees vir boeke. Dié wyse woorde van Elizabeth von Arnim, skrywer van The Solitary Summer, mag waar wees, maar dit beteken nie dié liefde kom sommer net vanself nie.
Gelukkig is daar takke, soos die ATKV-tak Eduplus van die Eduplus Onafhanklike Skool in Bloemfontein, wat seker maak die saadjie word geplant en kinders ontdek die wonder van boeke en van lees.
Vir dié tak, wat maar nog net ’n paar maande oud is, is dit belangrik om ’n liefde vir lees en skryf te kweek en hulle het toe planne beraam om dié skool se jaarlikse Letterkundedag nog meer spesiaal te maak.
“Ons wou nie net kinders herinner hoekom lees, boeke en stories belangrik is nie, maar ook boeke insamel vir ons skoolbiblioteek, wat sy deure in 2023 open,” vertel Louise Sevenster, voorsitter van die tak.
“Ons het die kinders uitgenooi om soos ’n storieboekkarakter aan te trek. Om deel te neem, moes elke kind een boek (oud of nuut) vir die biblioteek skenk.”
Dit was ook nie net die leerders wat deelgeneem het nie. Die onderwysers het ook soos hul gunsteling-storieboekkarakter aangetrek, tussen die klasse beweeg en die storie waarvolgens hulle aangetrek het, voorgelees.
Daar was ook heerlike prys op die spel vir die leerders wat met die beste uitrustings gespog het.
Bekroonde kinderboekskrywer Jaco Jacobs het ook ’n draai kom maak en met die leerders gesels. “Hy het ons van voor af lus gemaak om te lees,” sê Louise.
Aan kreatiwiteit was daar beslis nie ’n tekort as ’n mens na die foto’s kyk nie. “’n Paar van die ouer kinders het byvoorbeeld aangetrek soos Greg van Diary of a Wimpy Kid. Van die kleiner kinders het by fantasiekarakters gaan aanklop vir inspirasie en as seerowers en prinsesse opgedaag.
“Behalwe dat so ’n dag baie opwindend is, word die kinders op ’n spesiale wyse blootgestel aan stories en hoe lekker dit is om te lees. Dit is baie belangrik dat kinders van ’n vroeë ouderdom af ’n liefde vir boeke ontwikkel.”
Die ATKV-tak Eduplus is slaggereed om 2023 op ’n hoë noot te begin met verskeie projekte.
“Ons gaan beslis nie stilsit nie en ons beplan aan ons jaarlikse Prinsesbal vir pa’s en hul dogters, ’n spel-en redenaarskompetisie, ’n troeteldierskou en ’n herwiningsprojek.”
Die tak se groentetuinprojek is ook reeds in wording.