Ommietafelgesprek inspireer jong stemme in die Karoo
Die Ommietafelgesprek by die Karoo-toneelfees het voor ’n vol gehoor by die Victoria-Wes Gekombineerde Skool plaasgevind. Dit was ’n gesprek vol eerlikheid, humor en inspirasie met ’n sterk boodskap aan jongmense: Dit maak nie saak waar jy vandaan kom of wat jou omstandighede is nie – wees jouself en vind jou eie stem.
Chareldine van der Merwe, projekbestuurder van die Vriende van Afrikaans (VVA), en Beverley McKelly, voorsitter van die ATKV-tak Sommer Net Ons in Pacaltsdorp, het die gesprek gelei. Op die paneel was Morné Ayeni van ATKV-Crescendo, Shemeen Daniels van die Noblesfontein-windplaas, Karoo-toneelfeesvoorsitter, Brandon Erasmus, en die sanger, akteur, liedjieskrywer en ATKV-Crescendo-mentor, Whaden Johannes.
Die vraag was: Watter erfenis laat ons deur Afrikaans vir die volgende geslag? Hoe kan ons Afrikaans gebruik om gemeenskappe op te bou en aan te moedig?
“Wat is my stem? Wat is my identiteit? En hoe leef ek dit uit sonder om jammer te sê?” het Beverley gevra. Vir Whaden was dié vraag persoonlik. Hy het vertel hoe die Covid-19-pandemie vir hom ’n tyd van hernuwing en herskepping geword het.
“Covid-19 het ’n groot impak op my gehad. Ek het gaan stilsit en dink hoe ek vorentoe die pad gaan stap.”
Sy boodskap aan jong kunstenaars was eenvoudig: Bly jou oorspronklike self. Later het hy gesê kunstenaars moet voortdurend vra watter impak hulle maak.
“As jy as kunstenaar voel jy raak soos ’n worsmasjien, moet jy weer gaan kyk wat jy doen. Kunstenaarskap is ’n calling. My boodskap vir kinders is dat hulle altyd hulself moet wees. Wees seker wat jy wil hê en stick daarby.”
Dié gedagte het sterk aangesluit by Morné Ayeni se werk by ATKV-Crescendo, waar die ontwikkeling van jong talent sentraal staan. Op die vraag oor die rol wat kultuur, musiek en Afrikaans in jongmense se selfbeeld en identiteit speel, het Morné gesê: “Almal by Crescendo wil mense se drome help bewaarheid. Dit is ’n voorreg om dit vir mense te kan doen.”
Volgens hom gebeur daar iets besonders wanneer jongmense besef dat die Afrikaans wat hulle self praat, geldig is.
“Wanneer ons na ’n plek soos hierdie kom, ’n werkswinkel aanbied en sien hoe ’n kind ’n liedjie skryf, kan jy vir daardie kind sê: ‘Daar is niks fout met jou Afrikaans nie. Elke vorm van Afrikaans is eg en mag gebruik word. As jy skryf soos jy praat, is dit reg, en dáár begin die magic.’”
Morné het ook benadruk dat jongmense steeds aangemoedig moet word om loopbane in die kunste te volg, maar dat hulle toegerus moet word om hul talent volhoubaar te gebruik.
“Ons leer mense om hul eie musiek te skep, hul talent te verfyn, dit uit te leef en dit uiteindelik as ’n besigheid te bou. Wanneer ons dit vir die jeug doen in hul eie taal en kultuur, word dit ’n landskap waar ons vir onsself én vir ander werk kan skep.”
Shemeen Daniels, gemeenskapsontwikkelingspraktisyn by die Noblesfontein-windplaas naby Victoria-Wes, het op haar beurt die rol van besighede en gemeenskappe beklemtoon.
“Om deel van die Karoo-toneelfees te wees, is ’n groot voorreg. Ons wil in jongmense belê sodat hulle hul stem kan vind, hul kreatiwiteit kan ontwikkel en deel kan wees van iets groter. Toe ons jonk was, het ons nie sulke geleenthede gehad nie.”
Op die vraag oor hoe die volgende geslag gekoester moet word, was haar antwoord duidelik: “Besighede moet belê, gemeenskappe moet dit ondersteun en jongmense moet dit aangryp.”
Chareldine het bygevoeg: “’n Geleentheid beteken absoluut niks as jy dit nie aangryp nie.”
Vir Brandon Erasmus lê die hart van die fees by die kinders van die platteland.
“My missie is dat hierdie fees altyd behoue moet bly. Dit moet skoletoneelgroepe bymekaar bring en vir kinders ’n plek gee waar hulle net hulself kan wees en hul identiteit kan vind. Daar is min feeste van hierdie aard wat spesifiek op die platteland fokus. Ons moet altyd die plattelandse kind op die verhoog kry om hul stories te kan vertel.”
Toe Beverley hom vra wat hom dryf om die fees jaar ná jaar te laat groei, het Brandon gesê dit is “die glimlagte op die kinders se gesigte”.
“Ons ken die dinamiek van die dorp en van klein gemeenskappe. Hier is nie baie opvoedkundige vermaak nie. Die feit dat jy weet daar vind ’n klein verandering plaas, hou ’n mens aan die gang. As jy in die gehoor kyk, is die meeste mense hier kinders. Dít is wat my motiveer.”
Chareldine het Brandon en sy span se werk treffend opgesom: “Belê in jouself, belê in die toekoms, en wéés die verskil,” en hierdie leuse van die ATKV het deur die saal weerklink soos die leerders dit herhaal het.
Morné het gesê dit is vir hom ’n voorreg om binne ATKV-Crescendo ’n “droomwaarmaker” te wees.
“Wanneer jy iets kan doen wat nie soos werk voel nie, in jou moedertaal en binne die konteks van kuns en musiek, en jy sien later hoe iemand wat jy gehelp het begin sweef, is dit ’n wonderlike gevoel.”
Die Ommietafelgesprek het uiteindelik gefokus op identiteit, taal, selfvertroue en die skep van geleenthede vir ’n volgende geslag. Daarna het die woorde plek gemaak vir die verhoog toe die C&N Sekondêre Meisieskool Oranje hul wentoneel, (S)inK, opgevoer het.