‘Onse Vlaktes’-spelers bring egtheid na Tienertoneelverhoog
Tydens die Wes-Kaap se tweede ATKV-Tienertoneelstreeksfees het die produksie, Onse Vlaktes, opgevoer deur Zwaanswyk High School, ’n beoordelaarstoekenning ontvang vir boeiende en uitsonderlike geloofwaardige samespel tussen karakters. Dié gewilde streeksfees, wat deel vorm van die ATKV-Tienertoneelkompetisie, het van 24 tot 26 Augustus in die Baxter-teatersentrum in Rondebosch plaasgevind.
Marzahn Botha het by dié Engelse skool naby Muizenberg gaan kuier om by die deelnemers te hoor hoe hulle met hul onderskeie karakters kon identifiseer en hoe die alledaagse lewe in hul gemeenskappe hulle geslyp het om hierdie drama uitmuntend te interpreteer.
Onse Vlaktes is ’n tragiese drama wat handel oor Ethan (gespeel deur Ethan de Jager) en Ezra (Ezra Kiewiet) wat saam op die Kaapse Vlakte grootgeword het en soos broers is. Hulle vertel die storie van hul lewe tussen bendes, armoede en verlies. Die drama speel tussen die hede en verlede tyd af.
Ethan probeer nog die afsterwe van iemand ná aan hom, wat in ’n skietvoorval dood is, verwerk. Hy bevind hom tussen sy geliefdes en ook in die greep van die bendelewe, waar hy genoop word om daagliks te kies tussen reg en verkeerd.
“Die storie sentreer rondom die lewe van jong mense op die Vlakte, wat meer as net die konfrontasie met bendes insluit, maar ook kwessies aanspreek soos boeliegedrag, seksualiteit, die ontwikkeling van talente en hoe om met die verlies van ’n geliefde saam te leef,” sê juf. Sanet Ziller, die samesteller van die teks en die mederegisseur saam met Bianca Borchardt en Elroy Nyishimani.
“Die karakters het dit uitstekend reggekry om Kaapse humor in die stuk te weef. Hulle dans en sing soos die Kaapse Klopse, wat ook deel is van die drama en hulle alledaagse lewe,” sê Ziller.
Al is Zwaanswyk ’n Engelse skool, praat die kinders Mengels by die huis en kon hulle dit uitstekend in die drama naboots.
Die talentvolle hoofspeler, Ethan de Jager (18), sê hy het homself in die rol verloor en kon heeltemal met die karakter Ethan assosieer.
“Ek kom van ’n gemeenskap, Landsdowne, waar al die kwessies soos bendegeweld, misdaad, dwelms, boeliegedrag en om iets belangriks te verloor aan die orde van die dag is. So eintlik was dit heel maklik vir my.”
Vir hom hou dit nie hier op nie. “Ek wil ’n toekoms in toneelspel hê. Ek wil na ’n agentskap toe gaan wat my loopbaan verder kan uitbou. Baie deure gaan nou vir my oop.”
Volgens Ezra Kiewiet (17) van Wynberg is hy en Ethan groot maats.
“So, al was ons op die verhoog, het dit nie soos toneelspel gevoel nie. Ons het maar van mekaar se energie af gewerk,” sê Kiewiet.
Zimkhita Nkala, wat die karakter Bobby gespeel het, is as die beste byspeler in die provinsie aangewys. Bobby is ’n bendelid wat ook in die klas saam met al die karakters was.
“Ons almal ken mekaar en alles het baie natuurlik gevoel op die verhoog. Ek was geskok toe ek hoor ek het die prys vir die beste byspeler gewen, want eintlik beskou ek toneelspel net as ’n passie en is dit maar net iets wat ek doen. In die regte lewe is ek wel heeltemal anders as my karakter. Sy is hierdie arrogante bendelid en tomboy. Ek is nogal heeltemal anders, al het ek al met sulke karakters te doen gehad,” sê Zimkhita.
Die toneelgroep is dit eens dat dit ’n moeilike jaar was en dat hulle veral sedert die einde van die tweede kwartaal hard begin oefen het – dit het Vrydae, vakansiedae en aande ingesluit.
Volgens Ziller het die beoordeelaars die groep vereer vir hulle verbinding (chemistry) met mekaar.
“Juffrou Ziller het die karakters gekies, want sy kon bepaal watter rou talent elkeen het en het gehelp om die beste in ons uit te bring,” sê die toneelgroep.
Die eerste ding wat die tieners gedoen het ná hulle eervolle ATKV-vermelding was om by McDonald’s te gaan eet. “Ons kon dit nie glo nie. Nou gaan ons al skouer aan die wiel sit vir volgende jaar,” sê die groot familie van die Onse Vlaktes-drama.
Die Zwaanswyk High School-leerders wat deel was van die rolverdeling is: Ethan de Jager, Ezra Kiewiet, Hannah-Joy van Neel, Kezia Sampson, Margot Marcus, Kendra Barnes, Ziyaad Amardien, Tanatswa Muchena, Joy Vermaak, Anastacia Banet, Diago Hyde, Zimkhita Nkala, Musa Kumalo, Kaleb en Connor Marcus, Chayne Knockpaal en Malachi November.
Moenie die nasionale finaal van ATKV-Tienertoneel misloop nie! Die finaal vind van 5 tot 8 Oktober in die Kunstekaap in Kaapstad plaas – sien die program en koop kaartjies deur hierdie skakel te volg: https://linktr.ee/atkv_tienertoneel