Oom Doors vat raak by ATKV-tak Potpourri
Al nader oom Doors Rudman van die ATKV-tak Potpourri in Gqeberha (Port Elizabeth) sy 80ste lewensjaar, is hy nie sommer van plan om soos sy ander tydgenote sy dae iewers op ’n stoep of voor die televisie te verwyl nie.
Inteendeel, op 77 woeker hy in sy gemeenskap en probeer steeds ’n wesenlike verskil in ander se lewens maak.
“Daar is tans meer as 100 tandeborsels, tandepasta en omtrent net soveel waslappe wat deur skole geskenk is in my motorhuis. Ons as tak beoog om toiletware aan ouetehuise in die gemeenskap te skenk en die oorhandiging sal in die volgende week of twee geskied,” sê hy.
Oom Doors en die ATKV-tak Potpourri, wat ook betrokke is by Westering Primary School in Gqeberha, het ook onlangs uitgereik na die OP-kinderhuis, waar hulle komberse aan die kinders geskenk het.
“Ons het die kinders se name op die komberse borduur en dit saam met lekkernye vir hulle gegee. Die kinders was baie dankbaar en dit laat ’n mens ook goed voel as jy ’n verskil in iemand se lewe gemaak het,” sê oom Doors.
Die liefdadigheid het egter nie daar gestop nie.
“Op die dag wat ons die komberse oorhandig het, het een van ons taklede gesien dat die kinders met ’n stukkende bal sokker speel en sy het my daarvan vertel. Ek het toe sakelui in die gemeenskap gevra om te help en Broad Solar het tien balle aan die kinders geskenk.”
’n Mens kan nie help om te wonder hoekom oom Doors in sy herfsjare steeds so betrokke in sy gemeenskap is nie.
“Ek sê altyd ek is maar net hier om ’n diens te lewer. In my lewe het ek al baie wonderwerke en goedheid ervaar. Ná 28 jaar by Spoornet het ek my werk verloor. ’n Week later het ek ’n pos as onderwyser op Adelaide gekry. Die Here was nog altyd net goed vir my en ek wil ook dat ander sy goedheid ervaar,” sê hy.
Om betrokke te raak by die ATKV-tak Potpourri, kontak Riana Serfontein by 082 875 8750, of stuur ’n e-pos na Riana.serf@gmail.com. Besoek https://atkv.org.za/ons-storie/takke/ om jou naaste ATKV-tak of ATKV-tak te vind. Stuur ’n e-pos aan atkv@atkv.org.za as jy belangstel om ’n ATKV-tak te stig.