Op sy eie maat: Hier’s die Ruk en Rym-wenner
Hy’s dankbaar hy het betyds onthou om in te skryf, sê die nuutgekroonde wenner van Taalgenoot-Ruk en Rym 2026, Pous Calla. Boonop het die kniebesering wat hy kort ná sy inskrywing op sy branderplank opgedoen het hom gedwing om te sit en skryf, vertel hy.
Calla, oftewel Carel Olivier, het aanslag tot liedjieskryf en optree wat baie gaste by die Ruk en Rym-eindronde herinner het aan ’n soort Afrikaanse Neil Young. Hy is ook met Koos du Plessis en Gert Vlok Nel vergelyk, maar dat Calla sy eie besondere stempel afdruk, was duidelik uit die gehoor se reaksie op sy musiek: absolute stilte en aandag.
Jaco van der Merwe, kreatiewe regisseur van die kompetisie, meen Calla se unieke aanbod is nommerpas vir Ruk en Rym.
“Pous Calla is ’n baie unieke, ongewone kalant. Ek voel hy is ’n waardige verteenwoordiger van Ruk en Rym, want dit is juis op hierdie platform waar iemand soos sy kuns regtig kan skyn en daai unieke, authentic stem wat hy het regtig kan deurbreek,” sê Jaco.
Jaco, voorbok van die groep Bittereinder, was saam met die musikante Paul Riekert (Battery 9) en Augusta Zietsman (oftewel Sossi) en Ruk en Rym-alumnus, die liedjieskrywer Janke Mostert (Dierbaar) die beoordelaars tydens die eindronde wat op 4 Oktober as deel van die Toyota Stellenbosch Woordfees by die Daisy Jones Bar in Stellenbosch gehou is. Die groep Van Pletzen – Peach van Pletzen en Yo Nax (Matthieu Auriacombe) was tydens die geleentheid die gasbeoordelaars en gaskunstenaars.
Tydens die eindronde het tien uiteenlopende finaliste meegeding om die Johan Jack Smith-trofee, of Draadman, en ’n verskeidenheid ander pryse wat ateljeetyd, geskenkbewyse en kontantpryse insluit.
Jaco meen die uiteenlopendheid van die optredes was vanjaar weer opvallend, en die gemeenskap wat gevorm word, word elke jaar groter.
“Ek dink die projek verras ons net elke jaar met hoe ’n wonderlike platform dit is vir al die kunstenaars om mekaar te ontmoet en mekaar se kuns en musiek saam te kan geniet. Almal leer so baie by mekaar van performance en showmanship. Overall is ek net diep in my noppies.”
Ruk en Rym se assistentregisseur en senior subredakteur by Taalgenoot, Angie Gallagher, sê die ATKV is trots daarop dat Taalgenoot-Ruk en Rym as ’n voerband vir innovasie in die musiekbedryf kan dien.
“Die kunstenaars op die Ruk en Rym-verhoog – nie net die wenners van die kompetisie nie, maar elkeen van die 20 semifinaliste – se vars perspektief en uitdagende benadering tot musiekmaak in Afrikaans het ’n wesenlike invloed op die bedryf in sy geheel. Ons hoor daardie invloede uiteindelik in die hoofstroom en die ganse bedryf word daardeur verryk en verruim,” sê Angie.
Die topdriekunstenaars ontvang elk ’n omvattende pryspakket wat onder andere kontant van die ATKV en geskenkbewyse van Marshall Music en Sonder Ink insluit, terwyl die wenner ook ’n handelsmerkontwikkelingspakket van Steyn IP ontvang.
Die wenner en naaswenner kry ook die geleentheid om opnames van hul liedjies by gerekende musiekvervaardigers te laat doen.
Calla sê die Ruk en Rym-louere ontsluit vir hom nou verdere moontlikhede in die alternatiewemusieksfeer.
“Ek hoop om aan te hou met waarmee ek besig was. Ek het ’n paar ouskool ambisies. Ek wil in die studio kom. Ek wil die pad vat. Ek wil dit kan doen so lank en soveel as wat ek kan. Ek hoop dit sal oplaas die huur ook kan betaal, maar ’n song wat klaar geskryf is, is in my boek ’n groot sukses,” sê hy.
Jaco sê eweneens hy sien uit na wat ná afloop van die kompetisie uit Calla se pen en kitaar kom, maar laat die kollig ook op die res van die innoverende toptienkunstenaars val.
“Ek sien baie daarna uit om te sien wat hy in die studio kan doen en na die liedjies wat hy nog gaan vrystel en die gigs wat hy nog in die toekoms gaan doen. Enigiemand wat die naam Pous Calla of enigeen van die top-10 se name sien, maak seker julle vang daai kunstenaars live.”
Taalgenoot-Ruk en Rym word moontlik gemaak danksy die ondersteuning van Alternatief in Afrikaans, ATKV-Oorde, kykNET, Locally Yellow, Marshall Music, NUUS in Afrikaans, Railways Café, Sonder Ink, Spotify, Steyn IP, Studentejol, The Daisy Jones Bar, The Nothing Club, The Paperclip, die Toyota Stellenbosch Woordfees en Wêreld.
Om op die hoogte te bly van Ruk en Rym-nuus, volg Taalgenoot-Ruk en Rym op Facebook, TikTok en Instagram, of besoek www.rukenrym.co.za. Vir navrae, kontak asseblief vir Angie Gallagher by angieg@atkv.org.za.