Oprah in die gees by AbbAsorg Cloetesville
Dit is lankal wyd bekend dat die kletskoningin Oprah Winfrey ’n groot hart het as dit kom by die opvoeding en ontwikkeling van kinders in ons sonskynland.
As deel van haar filantropiese werk het sy sowat 30 jaar gelede die Oprah Winfrey Morehouse College-opheffingsbeursprogram in die deelstaat Georgia in die VSA gestig. Die program gee aan jong manstudente die geleentheid om hul leierseienskappe en talente te wys in gemeenskappe waar sosiale opheffingswerk nodig is.
Op 25 Mei het ’n groep bestaande uit 15 studente en hul programleiers vir die voorskoolse kinders by die ATKV se AbbAsorgsentrum in Cloetesville, Stellenbosch, gaan kuier.
Die sowat 45 voorskoolse woelwaters het grootoog en met gespitsde ore by hul tafeltjies aangesit om te hoor wat die grootmense met die vreemde aksente hier doen om hul dag nóg lekkerder te maak.
Die kindertjies van AbbAsorg kan nie eintlik Engels verstaan nie, maar woorde tel mos min as vriendelikheid en groot glimlagte op almal se gesigte is.
Die jong studente het sop en brood aan die kinders uitgedeel, waarna die groot verfspeletjies afgeskop het.
Volgens Juanita Jacobs, AbbAsorg-sentrumhoof, was daar drie klaskamers – die beertjie-, skapie-, en hasieklasse – om te verf.
“Ek het vrywilligers gekry om die buitelyne te skets sodat die studente die prentjies kon kom versier. Elke klaskamer – van juffrouens Frida Hendricks, Samantha Jacobs en Elaine Anthony – het sy eie tema en het ’n lees-, blokkie- en fantasiehoekie,” sê Juanita.
Terwyl die jongspan besig was om te verf, het sommiges graag reggestaan vir ’n foto saam met die grootmense terwyl ander weer warm drukkies van die vreemdelinge gesteel het.
Daarna het die kinders kunstenaar gespeel deur toiletrolletjies te verf waarin lekkers geprop gaan word wat tydens die “Christmas in July”-geleentheid aan hulle uitgedeel gaan word.
Volgens Karo Jackson van Brooklyn, een van die jong mans van Morehouse College, leef hy vir sosiale geregtigheid. “Ek wil ’n verskil maak en dis lekker om te weet ek kan op hierdie wyse my bydrae maak. Só skep ek ’n beter toekoms vir enige kind, want kinders is die toekoms,” sê hy.
Dr. Jann Adams, uitvoerende direkteur van die Oprah Winfrey-bemagtigingsbeursprogram, sê hierdie is ’n wonderlike program vir elke kind. “Elke kind het potensiaal, elke kind moet die kans vir ’n goeie opvoeding hê, elke kind moet genoeg kos hê en elke kind moet die geleentheid kry om hulself te ontwikkel.
“Hierdie program (Morehouse) het al 700 jong manne deurgetrek en ons maak dit elke somer vir nagenoeg 10 studente moontlik om Suid-Afrika te kom besoek en ’n verskil hier te maak.”
Clayton Lillienfeldt, programbestuurder van die Morehouse Oprah Winfrey South African Fellows Program, sê hierdie geleentheid beteken vir die oorsese studente net so baie soos vir die jongspan en die organisasies wat daarby baat vind. “Vir meer as die helfte van die studente is dit hul eerste keer oorsee, en om dit op hierdie wyse deur te bring, gee dit meer betekenis en kan hulle waarde toevoeg,” sê Lillienfeldt.
*Die doel van die Oprah Winfrey-opheffingsbeursprogram is om ’n internasionale netwerk vir langtermyn-befondsingsgeleenthede te vestig.
AbbAsorg is ’n voorskoolse sosiale verantwoordelikheidsprogram, hoofsaaklik vir kinders van drie tot ses jaar oud, wat aan elke kind ’n gelyke geleentheid tot gehalte-onderrig bied deur die vestiging van ’n goeie fondament. Sodoende word hul kans op sukses in die samelewing verbeter.
Volgens Juanita Jacobs, sentrumhoof by Cloetesville, is die skoolfooi slegs R30 per maand en sommige ouers sukkel om selfs dit by te bring.
AbbAsorg Cloetesville bestaan al sedert 2008.