Oudorings van die Gamtoosvallei bederf

By die ATKV-tak Gamtoosvallei glo lede daaraan om daad by die woord “omgee” te voeg. Die jonger geslag het die 20ste Aksie Oudoring gehou en die “oudorings” (dis nou die Gamtoosvalleiers bo 65) met ’n potjiekosdag bederf, waar hulle kon smul aan lipleklekker potte – alles van hoender- en bees- tot kerrie- en afvalpotjies is voorgesit.
Hanna-Mari Opperman, voorsitter van die tak, sê dit is ’n geleentheid vir die jonger geslag om dankie te sê vir die nalatenskap wat die ouer mense vir hulle voorberei en gelaat het. Die potte was teen 11:00 die oggend reeds aan die prut by Die Grand-funksievenue in Patensie en daar is behoorlik om die vure gekuier. Die potjiekoskokke het alles uitgehaal om watertanddisse te bedien. “Dit is ook ’n geleentheid waar ons alles wat mooi is in die vallei vier,” sê Hanna-Mari.
Aksie Oudoring word jaarliks in April gehou en is iets waarna oud en jonk uitsien. Sassa van Zyl, een van die oudorings, sê, “Dit was ’n wonderlike gedagte waarvoor ek groot waardering het. Die jongeres se aandag aan die detail was opmerklik. Sagte stoele vir die ouer lywe, ’n tentafdak om die son te keer, blomme op die tafels en versierings om alles vrolik en huislik te laat voel. En dan die drankies en kos! Heerlike koue sap, vars uit die vallei. Alles mildelik en gratis voorsien.
“Die potjiekos – wat ’n voortreflike idee. Ek is spyt ek kon nie van al die verskillende soorte potte eet nie, maar die klompie wat ek geproe het, was uit die boonste rakke. My gelukwense aan die potjiemakers en dankie vir die slaai en nagereg. Ons waardeer dit regtig opreg. My hart voel warm en trots op die toekoms van die Vallei, wat met sulke oulike jongmense kan spog. Mag die ATKV van krag tot krag gaan. Julle gee ’n mens moed in ’n land waaroor ’n mens soms ’n bietjie donker kan begin voel.”
Om betrokke te raak by die ATKV-tak Gamtoosvallei, kontak die streeksbestuurder, Christie Swanepoel, by 071 066 3530 of stuur ’n e-pos na ChristieS@atkv.org.za. Besoek https://atkv.org.za/ons-storie/takke/ om jou naaste ATKV-tak of ATKV-jeugtak te vind. Stuur ’n e-pos aan atkv@atkv.org.za as jy belangstel om ’n ATKV-tak te stig.