Pacaltsdorp bekoor toeriste met kos en stories

Om saam met eensgesinde vreemdelinge om ’n tafel te sit vir ’n heerlike maaltyd is ’n kultuurervaring soos min en presies wat die ATKV-tak Sommer net Ons van Pacaltsdorp in gedagte het met hul betrokkenheid by die Dine with the Locals-inisiatief.
Dié inisiatief het jare gelede informeel begin toe toeriste wat Pacaltsdorp besoek het, kon aansit vir snoek en patats en kon luister na stories oor dié unieke sendingdorp. Die konsep is verder deur die George-toerismekantoor uitgebrei en plaaslike kokke het begin om hul slag agter die kospotte te wys.
Beverley McKelly, voorsitter van die tak, is in Pacaltsdorp gebore en getoë en haar voorouers is deel van die dorp – toe nog bekend as Hogekraal – se geskiedenis.
“Die stories lê my na aan die hart en ek wil dit graag met ander deel.”
Daarom is Beverley en van die taklede nou betrokke by die kuns-en-kultuuraanbieding by die Dine with the Locals-gasheerrestaurant Ronnie’s Kitchen.
“By so ’n ete deel ons nie net ons grootwordkos nie, ons skryf ook ons eie Afrikaanse liedjies en gedigte om gaste van oor die wêreld heen te vermaak. Dit is vir hulle heerlik om na die stories te luister oor wat ons sendingdorp uniek maak,” sê Beverley.
“My passie vir kuns en kultuur in my omgewing gebruik ek nou om toeriste na ons omgewing te lok.”
Beverley span ook haar 71-jarige ma, Sheila Simpson, geliefd bekend as Koekoe, in om brood te bak en konfyt te maak en haar stories te deel.
“Die eenvoud van die geregte wat voorgesit word, raak soveel harte aan.”
Die Dine with the Locals-inisiatief spog met ’n hele paar opsies, wat onder andere insluit ’n Xhosa- (Explore my Hood), Khoi- (oom Bul) en Kaap Maleise-ondervinding. Een van die taklede, Magmoeda Sylvester, is verantwoordelik vir laasgenoemde ervaring.
Indien jy belang stel in so ’n eet-ervaring, kontak gerus die George-toerismekantoor by 044 801 9295.