PEAAT vereer Tobie Cronjé met Afrikoon

Die ATKV-tak PEAAT het in Oktober die klug, My boetie se sussie se ou, op die planke gebring by die Little Theatre in Gqeberha. ’n Bonus was dat die formidabele Tobie Cronjé saam opgetree het in die rol van Dêda. “Dit was vir ons almal ’n groot voorreg en eer om die verhoog met Tobie te deel. Ons is diep dankbaar dat hy bereid was om saam met ons op te tree,” sê Emercia de Lange, takvoorsitter.
Die tak het besluit om hierdie teater- en TV-legende met ’n Afrikoon-toekenning te vereer vir sy jare lange bydrae tot die Afrikaanse kunste. Hierdie toekenning is direk ná die laaste vertoning op die verhoog aan hom oorhandig.
Emercia sê, “Tobie is werklik so bekend onder Afrikaanse sowel as Engelse gehore. Sy teenwoordigheid het ’n baie groot gehoor getrek. Mense het geskakel om kaartjies te koop vir ‘die Tobie Cronjé-vertoning’. Hulle was nie eers bewus van die stuk se naam of dat PEAAT dit aanbied nie. Tobie is so nederig en talentvol. Die akteurs kon soveel by hom leer. Dit was werklik ’n leerskool en groot ondervinding en voorreg om ’n verhoog met hom te deel. Hy het eers drie dae voor die eerste vertoning in Gqeberha aangekom en kon dadelik by die res van die spelers inskakel.”
PEAAT staan vir Port Elizabethse Afrikaanse Amateur Toneelvereniging. Dié geselskap is in 1951 in ’n NG Kerkpastorie gestig met die doel om opvoerings te hou en só broodnodige fondse in te samel. Destyds het die geselskap vier produksies per jaar aangebied, maar soos die jare aangestap het, het dit al moeiliker geword om die pas vol te hou.
“TV het gekom en mense se lewens het al voller en besiger geword. Mettertyd was die doel om ’n verhoog vir amateurs in Afrikaans te skep,” sê Emercia.
In 2005 is daar tydens ’n spesiale jaarvergadering besluit dat PEAAT voortaan as ’n ATKV-tak sou funksioneer. Vandag doen die ATKV-tak PEAAT een groot produksie per jaar, met kleiner optredes tussenin. PEAAT het oor die jare al 175 produksies op die planke gehad en regisseurs- en dramakursusse by skole aangebied. Dit het ook ’n jaarlikse instelling geword om uit te reik na ouetehuise.
Volgens Emercia beteken PEAAT geweldig baie vir die mense van Gqeberha. Danksy die passie van die amateurteaterlui bestaan die geselskap nou 71 jaar. “Al ons lede sit hulle hart en siel in die produksies wat ons aanbied. Hulle word nie betaal nie en doen dit vir die passie van die saak,” sê sy.
Loer gerus na die ATKV se webblad om meer te wete te kom oor takprojekte. Om jou naaste ATKV-tak te vind, besoek atkv.org.za/ons-storie/gemeenskap/. Indien jy belangstel om ’n ATKV-tak te stig, stuur ’n e-pos aan atkv@atkv.org.za.