Pniëlse gehoor meegevoer deur ‘Klawerjas’
Selfs die driftige reënbui in die Boland het nie gekeer dat ’n groot gehoor van 150 mense die onlangse ATKV-Crescendo-produksie, Platformsessies: Klawerjas, in opdrag van die Adam Small-fees te Pniël in die vallei van die Simons- en Drakensteinberge, bygewoon het nie.
Onder die opgewonde toeskouers was die Wes-Kaapse minister van kultuursake en sport, Anroux Marais, wat die musikale blyspel op Facebook as “super” beskryf het. Die onderburgemeester van Stellenbosch, raadslid Jeremy Fasser, was ook onder die belangstellendes.
Die verrigtinge het weens reën vanaf die Pniël-museum se teetuin verskuif na die atmosferiese saal van die Pniël Congregational Church, wat saam met die dorp vanjaar 181 jaar oud is.
Klawerjas: Beklee deur kuns
In 2023 het ATKV-Crescendo die eerste Platformsessies: Klawerjas-produksie aangebied in opdrag van die Adam Small-fees. Dit is na aanleiding van die ATKV en die Vriende van Afrikaans (VVA) se oorspronklike verbintenis met die fees. Die produksie is toe saam met Janine Myburgh, die feesbestuurder, uitgebrei om ’n konsert ter ere van die dramaturg en digter Adam Small te wees.
Die kreatiewe direkteur van ATKV-Crescendo, Robin-Dean Fourie, oftewel die rymkletser Die Hooflig, het navorsing gedoen oor Adam Small en die fees, en met die klawerjas as tema vorendag gekom.
“Dis ’n musikale blyspel wat ons beskut teen die kunsloosheid van die wêreld,” sê Fourie van die produksie.
“Net soos ons beklee word deur die kuns wat ons bevorder, só word kuns beklee met ons uitsonderlike geskiedenis, unieke emosionele ervarings en die mooi van opgroei in ’n land soos Suid-Afrika; ’n land waar gesonde gemeenskappe leef, en ’n land wat op die koudste van dae sal vra: ‘Is jy warm genoeg aangetrek, my kind?’ Kuns is die jas en die klawers vorm ons unieke lied en stem,” vertel Fourie.
Vanjaar se paneel kunstenaars het bestaan uit ’n keur van ATKV-Crescendo-kunstenaars – ’n vermenging van mentors en finaliste. Hierdie jaar was dit Sarah Theron (mentor), Whaden Johannes (huidige mentor en finalis van 2015), Selby Williams (finalis van 2022) en Gaywin Abrahams (finalis van 2023).
Van meet af was die gehoor op die punte van hul stoele toe Whaden die blyspel op ’n ernstige noot afgeskop het met ’n frase uit Adam Small se bekende gedig: “die Here het gaskommel en die dice het verkeerd geval vi’ ons”. Verskeie nuutskepping en improvisasies op ander ATKV-Crescendo-legendes se liedjies is op die verhoog vertolk.
Platformsessies “praat” uit die vuis
Volgens die projekkoördineerder van ATKV-Crescendo, Morné van Staden, word keuring altyd gebaseer op diversiteit in terme van genre, musikale aanslag en vokale kwaliteit.
“Platformsessies word altyd spontaan sonder ’n draaiboek aangebied, maar met ’n deurvloeiende tema, waar musiek gebruik word om die tema te dryf. Die kunstenaars se persoonlike ervarings, sienings en opinies word gedeel om die vloei van die produksie te verseker – dit wat op die verhoog gedeel word, is ’n natuurlike en organiese proses, so grappies gebeur vanself…”
Al die kunstenaars se humoristiese kwinkslae en lekkerbekkigheid het vanjaar weer vir groot vermaak onder die gehoor gesorg.
Hulle het byvoorbeeld straks op ’n satiriese wyse gespot met mekaar se komvandaan, soos Sarah van Parow, Whaden van Mamre aan die Weskus, terwyl Selby en Gaywin van Worcester is.
Van Staden sê dit vir hom ’n geweldige groot vreugde om die ATKV-Crescendo-span te aktiveer om hierdie produksie na die Adam Small-fees in Pniël te bring.
“Ons wil graag waarde toevoeg tot en ondersteuning bied aan die Adam Small-fees, wat met harde werk en baie integriteit deur ’n klein groepie mense aangebied word vir die vallei se gemeenskap. Dit word ook gedoen om hulde te bring aan een van Suid-Afrika se ikoniese skrywers. Binne ATKV-Crescendo handel ons altyd met die grootste respek vir ons medemens, en is dit vir ons belangrik om te verseker dat ons hulde bring aan hulle wat die lewe mooier maak en ook vir die pad wat hulle voor ons gestap het en steeds stap.”
Gerrie Lemmer, die ATKV se uitvoerende hoof: kultuur, wat die musikale aand geopen het, het die gehoor aangemoedig om applous te gee vir ATKV-Crescendo, wat vanjaar 50 jaar oud. Hy sê die manier hoe hulle daarby uitgekom het, is deur veerkragtigheid aan die dag te lê.
“Daar is soveel uitdagings en eksterne faktore wat inwerk om só ’n program te laat slaag. Baie kunstefeeste hou nie so lank nie.
“Elke 10 jaar het ons nuwe aanpassings gemaak. Ons het nuwe genres ingetrek tot waar dit nou is.
“Vandag het daar vier handelsmerke uit ATKV-Crescendo gekom, waarvan die Platformsessies een is. Ons is baie trots hierop. Vir die ATKV is dit ’n reusevoorreg om deel van die Adam Small-fees te wees.”