Prieska se boeketrollie kry kinders aan die lees

Verlede jaar by die algemene jaarvergadering van die ATKV het ’n besonderse eer die jeugtak Prieska te beurt geval. Hulle is tydens die vergadering vereer as ’n tak met ’n baie hoë vlak van funksionaliteit. Die toekenning is ’n bewys van die geesdrif waarmee al die lede aan die tak se verskillende projekte deelneem. Esmé du Toit, die tak se voogonderwyser, is ’n onderwyseres by die Hoërskool Prieska. Hoërskool Prieska is ’n gekombineerde skool en daar is leerders van graad 1 tot graad 12 in die skool. Baie van die leerders bly in die koshuise by die skool. Een van die grootste uitdagings deesdae is om kinders geïnteresseerd te kry in boeke en in lees. Die biblioteek van hierdie skool, soos by baie ander skole, funksioneer nie meer uitsluitlik as ’n biblioteek nie, en Esmé, wat ook ’n opgeleide bibliotekaresse is, het besluit om iets daaraan te doen.
Gertjan Holtzhausen, ATKV-streeksbestuurder, het as beloning vir die toekenning wat hulle verower het, boeke uit die Tippie-leesreeks aan die skool geskenk. Hierdie oulike leesreeks oor ’n klein blou olifant met die naam Tippie wat almal help lees, is deel van LAPA-uitgewers se reekse vir beginnerlesers en is gemik op graad 1- tot 3-leerders. Esmé en haar span het ’n plan gemaak en op Donderdae, gedurende pouses, word daar ’n leestrollie met boeke daarop rondgestoot waaruit die kinders boeke kan kies om te lees, onder meer die Tippie-boeke. Esmé vertel dat hulle in die verlede probeer het om kinders in pouses na die biblioteek te lok, maar dit was nooit regtig suksesvol nie. Ná skool is die kinders ook almal betrokke by verskeie buitemuurse bedrywighede. Die boeketrollie wat op Donderdae rondgaan, is egter met groot entoesiasme ontvang en die kinders wil gedurig weet of daar nie nog nuwe boeke bygekom het nie.
Ook by die hoërskool is daar begin om tydens pouses ’n boekekrat beskikbaar te stel en daar is ook heelwat geesdrif daaroor om ’n boek só uit te soek. Esmé verwys na Alba Bouwer wat gesê het ’n mens moet bloot die regte boek op die regte tyd by die regte kind uitkry, en jy wen ’n nuwe leser. Die wyse waarop die boeke nou na die kinders gebring word, lewer baie goeie resultate. Daar is beslis ’n nuwe entoesiasme oor boeke te bespeur onder die leerders. Esmé en haar span is regtig dankbaar oor die opgewondenheid oor hierdie leesprojek, en hopelik kan daar sommer binnekort weer ’n leeshoekie in die biblioteek beskikbaar gestel word. Entoesiasme is immers aansteeklik en wanneer een jongmens vir ’n ander vertel van ’n goeie boek wat hy of sy gelees het, word daar beslis ’n saadjie van nuuskierigheid geplant wat net goeie gevolge kan hê.
Die ATKV-jeugtak Prieska is ook besonder opgewonde oor die bordspeletjie wat nou by die ATKV beskikbaar is wat ’n inisiatief van dié tak was. Saam met juffrou Esmé het hulle oor drie jaar geswoeg en gesweet om ’n idiome-bordspeletjie, Meer bek as binnegoed, te ontwikkel. Die doel van die speletjie is om enigeen wat daaraan deelneem se kennis van idiome te verbeter. Die ATKV het gehelp om dié bordspel uit te bou tot ’n gehalteproduk wat onderwysers met groot vrug in die klaskamer kan gebruik. Dit is ook die ideale speletjie vir gesinne en vriende en boonop bevorder dit Afrikaans. Die amptelike bekendstelling van die bordspeletjie sal in die volgende kwartaal by die Hoërskool Prieska plaasvind. Veels geluk aan die ATKV-jeugtak Prieska – mag julle geesdrif en ywer nooit kwyn nie. Die speletjie kos R280 (posgeld ingesluit). Vir enige navrae stuur ’n e-pos na merciae@atkv.org.za.