Projek vier Afrikaanse musiekskat met 100 liedjies

Deur die dekades, vir ’n eeu lank al, het Afrikaanse kunstenaars gewoeker in ons taal. Hulle het treffer op treffer die lig laat sien en deur die jare het ons geskoffel, getiekiedraai en gesokkie op oorwurms soos “So ry die trein”, “Dis ’n land”, “Suikerbossie” en, meer onlangs, “Kaptein”.
Daar is eenvoudig net te veel Afrikaanse liedjies om te noem, maar die komponis Anton Esterhuyse, in samewerking met die ATKV, het besluit om dit hulle taak te maak om ons musiekerfenis te vier. Oor 100 dae gaan hy en ’n groep musikante 100 verwerkings van bestaande liedjies vrystel.
“Ek het gesien dat Afrikaans in 2025 amptelik ’n honderd jaar oud gaan wees. Ek het toe gedink dat dit ’n goeie idee sal wees om ’n honderd Afrikaanse liedjies op YouTube te plaas as bewys van hoe mooi die taal kan sing,” sê Anton.
Tussen 29 Januarie en 8 Mei gaan daar op die Zita Filmz-kanaal op YouTube elke dag ’n nuwe verwerking van ’n bekende Afrikaanse liedjie vrygestel word.
“Daar is so baie kunstenaars met wie ek al saamgewerk het, veral in Bloemfontein, dat ek gevoel het dit sal nie moeilik wees om sangers en instrumentaliste te kry om saam met my die liedjies op te neem nie.”
Volgens Anton fokus hy veral op liedjies wat deur die jare groot bekendheid verwerf en volksbesit geword het.
“Dit sluit ’n verskeidenheid genres en style in, naamlik kunsliedere, luisterliedjies, volksliedjies en selfs ’n bietjie Afrikaanse rock.”
Hy sê dit is onmoontlik om ’n omvattende lys saam te stel.
“Hopelik sal elkeen wat na die 100 liedjies luister een van sy of haar gunstelinge hoor, maar omdat ek die gemene deler in die projek is, was dit ook vir my belangrik om liedjies te kies waarmee ek vertroud is.”
Anton meen dié projek is ’n viering van ons kultuurerfenis en van die taal.
“Oor die dekades heen is daar soveel komponiste en digters wat die taal deur musiek laat leef het en dit roep baie herinneringe op. Dit maak dit spesiaal.”
Johan Esterhuizen, ATKV-bestuurder: jeugprojekte, sê die ATKV is sinoniem met musiek danksy projekte soos ATKV-Crescendo, ATKV-Applous en ander musiekprojekte soos Taalgenoot-Ruk en Rym.
“Die 100-liedjie-projek van Anton-hulle neem ons op ’n voëlvlug van die groot Afrikaanse musiekskat wat daar is en waaraan die ATKV help bou het,” sê hy.
Volgens Johan is die ATKV betrokke by hierdie projek om die gehoor bekend te stel aan nuwe vertolkings van ou bekende liedjies deur bekende en minder bekende kunstenaars.
“Waar Anton Esterhuyse betrokke is, is daar kreatiwiteit en kwaliteit.”