PTA-kore slaggereed vir ATKV-Applous 2026
ATKV-Applous is ’n toonaangewende skoolkoorkompetisie in Suid-Afrika, met ’n indrukwekkende 314 kore wat in 2026 ingeskryf het. Hierdie kore verteenwoordig meer as 22 000 leerders uit hoër- en laerskole.
Die koordirigente en hul koorlede is reeds ywerig besig met stemopwarming en oefensessies. Stemgroepe en solosangers is uitgesoek, en die kore skerp voortdurend hul intonasie, melodie, harmonie, dinamika, tempo, ritme en klankkleur op.
Die ATKV-Applous-span, vergesel van ’n afvaardiging van Suid-Afrika se mees kundige en gesaghebbende koorbeoordelaars, reis gedurende Mei na 19 bestemmings regoor Suid-Afrika en Namibië met die doel om 40 topkore te identifiseer.
’n Besonderse streeksfees word vanaf 14 tot 16 Mei in Pretoria beplan. ’n Indrukwekkende 35 hoërskoolkore en 54 laerskoolkore neem aan die Pretoria-streeksfees deel.
Hierdie streeksfees word aangebied by die NG kerk Skuilkrans, en begin op 14 Mei om 09:00 en op 15 Mei om 08:45. Die eerste sessie op 17 Mei begin 08:30 die oggend, met die middagsessie wat om 17:00 begin.
Almal word uitgenooi om die streeksfeeste in hul kontrei by te woon, om inspirerende jong koortalent te ondersteun en die toewyding van ’n nuwe generasie musici te vier.
Die ATKV-Applous-span spreek ook hul opregte dank uit teenoor Axon Security Group vir hul ruimhartige ondersteuning van die Pretoria-streeksfees, en hul bydrae om te verseker dat alle gaste en hul voertuie veilig is.
Na afloop van die landswye streeksfeeste sal die kore wat na die finaal van ATKV-Applous 2026 deurgedring het, bekendgemaak word. Tydens die finaal sal die topskoolkore van Suid-Afrika en Namibië mekaar uitdaag om die titel van die beste skoolkoor te verower.
Die finaal van ATKV-Applous 2026 vind vanaf 29 Julie tot 1 Augustus 2026 in die Kaapstadse Stadsaal plaas. Hou gerus die pers dop vir meer inligting oor vanjaar se finaal, wat reeds beloof om ’n spoggeleentheid te wees.
Moenie hierdie onvergeetlike fees van talent, passie en die vreugde van koormusiek misloop nie!
Kontak gerus vir Corneli Quinn, ATKV-Applous-projekorganiseerder, per e-pos by corneliq@atkv.org.za of telefonies by 011 919 9012, of vir Bessie Keun, ATKV-Applous-organiseerder, by bessie@applous.co.za of telefonies by 072 598 1480 vir enige navrae.