Rieldans skop dié Desember stof op ná twee jaar se stilte
Die ATKV-Rieldans het soos baie ander geleenthede die afgelope twee jaar weens die Covid-19-pandemie in die stof gebyt. Nóú kan daar uiteindelik weer stof opgeskop word soos in die ou dae – en nêrens anders nie as in een van die oudste dorpe in Suid-Afrika, Clanwilliam.
Dié dorp, geleë aan die voet van die Sederberg, speel op Saterdag, 3 Desember gasheer vir die ATKV-Rieldansfees 2022, waar daar weer lewe in een van die oudste dansvorme geblaas gaan word.
Volgens Gerrie Lemmer, uitvoerende hoof: kultuur by die ATKV, is dié organisasie besonder opgewonde om weer vir rieldansers die geleentheid te gee om hul slag in die stof te wys.
“Die ATKV bied die Rieldansprojek sedert 2006 aan en ons het die dansers se kreatiwiteit geweldig baie gemis. Met twee Rieldans-minifeeste in Carnarvon en De Doorns wat reeds gehou is en die Rieldansfees in Clanwilliam is ons terug met mening om te verseker dat die riel in sy oorspronklike vorm behoue bly en bevorder word.”
Die rieldans as dansvorm het van die 1930’s tot in die vroeë 1960’s hoogty gevier op plase en veral onder skaapskeerders. Die riel het veral te make met die hofmakery tussen man en vrou – om dít uit te beeld, word diere en voëls nageboots, soos byvoorbeeld in die skoenlapperdans, die vlerksleep van ’n haan, ’n volstruismannetjie of kalkoen.
Gerrie glo dat rieldans deel is van ons kultuuurerfenis en dat kultuurtoerisme en entrepreneurskap in die kunste van die kulturele voordele is wat danse soos die riel inhou.
“Deelnemers se lewensuitkyk word verbreed, want diegene wat selde of glad nie hul tuisdorp verlaat nie, kry nou die geleentheid om een keer per jaar ’n ander dorp te besoek.
“Die plaaslike gemeenskap, besighede op die dorp en die munisipaliteit vind baat by geleenthede soos die Rieldansfees,” sê Gerrie.
Die ATKV-Rieldansfees sal om 16:00 op 3 Desember begin en hekgelde beloop R50 vir volwassenes en R30 vir kinders. Die hekke by die Clanwilliam-sportterrein open reeds om 12:00.
Van die groot rieldansgunstelinge sal in aksie wees, soos die Betjies van Betjiesfontein, die Prins Albert Stoftrappers en die GB Batt Askoeke. Daar neem altesaam 23 groepe deel.
“Ons nooi ’n ieder en ’n elk om hierdie geleentheid by te woon en saam met die ATKV hande te vat om gemeenskappe saam te snoer, Suid-Afrika ’n beter plek te maak en sosiale kohesie te bevorder.
“Kom vier saam met ons alles riel!”