Rommel word rokke in Heidelberg

Die vreugdevure in Gauteng brand sedert die dorp Heidelberg verlede jaar as Kwêla se 14de Dorp van die Jaar aangewys is.
Dié dorp aan die voet van Suikerbosrand langs die N3 het koning gekraai danksy sy historiese erfenis soos die AG Visser-huis wat hier geleë is, maar ook omdat dit deesdae ’n skoon baadjie aangetrek het en hier weer hoop bestaan.
Die Kwêla Dorp van die Jaar-kompetisie en Heidelberg Hope, een van die mede-organiseerders van die Kwêla Makietie op 1 en 2 November, se fokus was om Heidelberg as ’n netjiese dorp op te bou en sommer blinkskoon te hou.
Heidelberg Hope maak paaie reg, verf padtekens en het skoonmaakprojekte waar inwoners elke Donderdag uitgaan om rommel op te tel en vullis te verwyder. Hulle het ook muurkuns- en sypaadjieprojekte om die dorp te verfraai.
Die grootste visie wat uit nood gebore is, is om die Unieveld-sportvelde met die wengeld van R1 miljoen van Lottoland en die advertensie van R1 miljoen op kykNET, op te gradeer, wat beteken dat sportsoorte soos tennis, rolbal en krieket weer hier in Heidelberg sal floreer.
Volgens Annemarie Alberts, ATKV-streeksbestuurder, is daar “letterlik ’n oorlog teen rommel verklaar” en alle inwoners is aangemoedig om hul strate skoon te maak en skoon te hou.
Alberts sê die styl-ikoon van Style Challenge International, Sandra Taljaard, is genader om ’n item by die Kwêla Makietie aan te bied. Taljaard en die ATKV-tak Heidelberg, waarvan sy ’n lid is, het saam ’n plan beraam om vlerke aan die projek, die Rommelrevolusie-modeparade, te gee.
Lede van die Heidelberg-gemeenskap tussen die ouderdomme van 6 en 20 jaar is genooi om aan hierdie unieke kompetisie van herwinning deel te neem. Deelnemers moes hul eie uitrustings ontwerp en skep deur herwinbare materiale te gebruik.
Só kon plastiekbottels, visnette, matte, karton, wol, papier, glas of enige metaal ingespan word
vir hierdie moderevolusie van uitrustings wat die koppe laat draai het. Jy het enigiets gekry – van rokke wat uit lae swartsakke of verfkleurkaartjies gemaak is, of hoede wat van Takealot-bokse en handsakke wat van Checkers Sixty60-sakke gemaak is.
Taljaard was ook die aanbieder tydens die Rommelrevolusie-modeparade, terwyl Ashleigh Labuschagne, een van haar kollegas, agter die verhoog gesorg het dat die modelle in die regte volgorde gereed is om op die loopplank te verskyn.
Die beoordelaars het die uitdagende taak gehad om die kreatiewe uitrustings te beoordeel. Die beoordelaars was Jenny Labuschagne van Avon, Liza Fulton van Sure Travel Set, wat in Heidelberg gebaseer is, Lizelle Grobler, ’n forensiese psigofisioloog, en Annamarie Alberts.
Drie pryse is toegeken: ’n plaaslike vliegtuigkaartjie en ’n geskenkpak van Sure Travel Set vir die algehele wenner, ’n midweek-wegbreek van die ATKV, asook ’n geskenkpak ter waarde van R1 000 van Avon. Daar was ook ’n kontantprys van R500, geborg deur die ATKV-tak Heidelberg.
Taljaard sê die hoogtepunt van die modeparade was die deelnemers se kreatiwiteit en entoesiasme.
Om jou naaste ATKV-tak te vind en die verskil te wees, klik hier.