RSG/ATKV-vierkant bou musikale brûe
Wanneer twee unieke talente uit die Suid-Afrikaanse musieklandskap kragte saamsnoer, ontstaan daar iets merkwaardig. Die samewerking tussen die bekroonde sangeres Anna Davel en die meesterlike ensemble, The Melisizwe Plaatjie Collective, is ’n klinkende voorbeeld van Suid-Afrikaanse musiekkuns op sy mees verfynde, meesleurende en vernuwende vlak.
Tydens die Toyota Stellenbosch Woordfees het hierdie pragkombinasie gesorg vir een van die absolute hoogtepunte by die RSG/ATKV-vierkant agter die Universiteit Stellenbosch-museum. Op hierdie lewendige kultuurkuierplek het hul klanke en energie die gehoor meegesleur – ’n bewys van hoe die ATKV en RSG platforms skep waar kunstenaars en luisteraars in ’n ongedwonge, gesellige atmosfeer bymekaarkom om die rykdom van ons musiekerfenis te vier.
Vir Suid-Afrikaanse musiekliefhebbers het Anna Davel geen bekendstelling nodig nie, maar haar indrukwekkende pad na nasionale roem het ’n direkte en trotse ATKV-wortel. Toe sy in 1997 as die algehele wenner van die ATKV-Crescendo-kompetisie aangewys is met haar eie werk, “Viooltjies”, het hierdie platform haar talent as begaafde liedjieskrywer en vertolker op die nasionale verhoog geplaas.
Oor Anna en die Collective se saamwerk, vertel sy: “Ek het verlede jaar by die Woordfees vir Laurinda Hofmeyr raakgeloop en gevra wat vir haar uitgestaan het. Haar antwoord was The Melisizwe Plaatjie Collective.
“Ek het hulle gebel en voorgestel om saam met my by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) op te tree. Ek is baie gelukkig dat ons kan saamwerk, al het ons mekaar se musiek eers in die repetisies vir die fees leer ken.”
Die vonke het dadelik gespat toe hulle begin saamwerk het. Die res is geskiedenis.
Die lede van The Melisizwe Plaatjie Collective verteenwoordig ’n nuwe generasie van Suid-Afrikaanse jazz-talente. Die groep word gelei deur die begaafde pianis, komponis en regisseur, Melisizwe Plaatjie. Die ensemble bestaan uit jong musikante wat oor die hele Wes-Kaap versprei is – drie van George, een van Khayelitsha en die tromspeler van Franschhoek.
Wat dié samewerking só besonders maak, is dat hierdie musikante minder as die helfte van Anna se ouderdom is. Die ouderdomsverskil vervaag egter sodra die eerste note op die verhoog gebou word. Wat oorbly is ’n dinamiese wisselwerking tussen ervaring en vars, lewendige energie.
Hierdie musiekprojek is nie net ’n gunsteling onder feesgangers nie, maar geniet ook wye kritiese eer. Tydens die KKNK is Anna Davel en The Melisizwe Plaatjie Collective met die gesogte Kanna-prys vir beste aanbieding: kontemporêre musiek bekroon, terwyl hulle ook in April by die Suidoosterfees en in Augustus by die Klein Karoo Klassique opgetree het.
Die kollektief het die kuns vervolmaak deur tradisionele jazz te verweef met inheemse Afrika-ritmes, blues en vars verwerkings van bekende Afrikaanse skatte.
Tydens hul optrede by die RSG/ATKV-vierkant het Anna en die Collective die gehoor op ’n reis deur tyd, herinneringe en verskillende generasies van musiek geneem. Die vertoning het afgeskop met die kontras tussen die oud en die nuwe. Nadat die groep Plaatjie se oorspronklike komposisie “Imvelaphi” (wat handel oor sy tuisdorp George, familie en saambestaan) gespeel het, het Anna die 80 jaar oue “Die Oukraalliedjie” ingespan. Dit is ’n liedjie wat deur haar oupagrootjie, ouma en ouers gesing is, en nou nuwe lewe kry deur die ritmiese spel van jong jazz-musikante.
Anna het die individuele talent van die groeplede gevier, waaronder Kerwin Albertus op die altsaksofoon, Henco Bester op tenoor-saksofoon, Caleb Dlamini op die tromme, Pizzo Magatyana op die baskitaar en Melisizwe Plaatjie self as die musikale regisseur en komponis.
Hierdie samewerking beliggaam die kernwaardes van die ATKV: die bevordering van artistieke uitnemendheid, die uitbou van Afrikaanse musiek en die skep van kulturele brûe.
Dat ’n ATKV-Crescendo-produk soos Anna Davel – wat dekades gelede deur hierdie platform haar eerste groot deurbraak gemaak het – vandag steeds aan die voorpunt van vernuwing staan en skouer aan skouer optree met ’n nuwe generasie jazz-talente, bewys die volhoubare impak van sulke projekte.