RSG/ATKV-vierkant: Kulturele spilpunt by Woordfees
Die 26ste Toyota Stellenbosch Woordfees het weereens bewys waarom dit een van Afrikaans se grootste en gewildste kultuurfeeste is. In die hartjie van hierdie feesterrein agter die US-museum in Ryneveldstraat het die bruisende RSG/ATKV-vierkant weer geskitter as die gratis spilpunt waar feesgangers, gesinne en verbygangers spontaan byeenkom.
Met sy unieke kombinasie van regstreekse radio-uitsendings, musiek, boekbesprekings, drama en lewendige gesprekke, was die vierkant dié plek waar die polsslag van die fees deurlopend gevoel kon word. Die atmosfeer was gelaai met kreatiewe energie en die herkenbare stemme van geliefde radio-aanbieders en kunstenaars.
RSG het die verhoog oorgeneem om hul gewildste programme lewendig vanaf die fees uit te saai. Feesgangers kon van naby sien hoe dinge agter die skerms werk. Aanbieders en joernaliste het regstreekse onderhoude gevoer met ’n wye verskeidenheid skrywers, regisseurs, akteurs en maatskaplike leiers.
Die ATKV het op hul beurt weer gesorg vir boeiende gesprekke oor die Afrikaanse taal, literatuur en gemeenskapsontwikkeling. Boekbeheptes is bederf met besprekings waarin bekende en opkomende skrywers insig gebied het in hul nuutste werke en die skryfproses.
Die program op die RSG/ATKV-vierkant se verhoog was propvol en het iets vir elke smaak gebied. Van vroegoggend tot laataand was daar geen tekort aan talent nie.
Bekende Afrikaanse sangers soos Jak de Priester, Joshua na die Reën, Anna Davel en The Melisizwe Plaatjie Collective, Deon Meiring, Stephanie Baartman en Leon Ferreira het die gehoor betower met akoestiese optredes, kabaret-uittreksels en meesleurende klanke. Van gevestigde verhooglegendes tot vars nuwe stemme op die plaaslike musiektoneel het die gehoor laat saamsing en hande klap.
Elmarie Rabe, bestuurder van Stellenbosch Wynroetes, het meer oor die roetes se 55ste verjaardagjaar kom vertel en verskeie wynmakers het gedurende die week wynproewery saam met Martelize Brink van Die Reine Wynheid aangebied. Christelle Webb-Joubert, aanbieder van RSG-Kuns en Skuif Nader, het met verskeie kinderboekouteurs gesels, waaronder Riana Scheepers, Wendy Maartens en Chareldine van der Merwe.
Wat die RSG/ATKV-vierkant so besonders maak, is die toeganklikheid daarvan. Omdat die vierkant gratis en oop is vir almal, dien dit as ’n demokratiese ruimte waar enigiemand ’n stoel kan uittrek, ’n glas wyn of koffie kan geniet en topklas-vermaak kan beleef. Dit is die plek waar ou vriende mekaar raakloop, nuwe vriende gemaak word en waar die feesgees waarlik gestalte kry.