Ruk en Rym-finaal: Wie stap met Draadman weg?
Die vierde Taalgenoot-Ruk en Rym-finaal vind eersdaags as deel van die Toyota Stellenbosch Woordfees plaas. Dié kompetisie vir alternatiewe klankskeppers bring op 4 Oktober van die mees vernuwende en uitdagende Afrikaanse kunstenaars byeen – en enigeen van die top-10 kan nog met die gesogte Johan Jack Smith-trofee, oftewel Draadman, wegstap.
Jaco van der Merwe, kreatiewe regisseur van Taalgenoot-Ruk en Rym, sê die finaal is ’n opwindende geleentheid waartydens elke finalis voluit mik om te wen.
“Dis nog op die dag anyone’s game, en dis vir ons baie lekker om te sien hoe gemeenskap op die ou end seëvier, wie ook al uiteindelik as die wenner aangewys word,” sê Jaco.
Angie Gallagher, assistentregisseur, is dit met hom eens. “Ek’s huiwerig om vir mense te vertel wie ek dink gaan wen, want ek vertrou nie my eie oordeel nie – ek was in die verlede al verras deur die wenners. Ek kan egter sonder twyfel sê dat elkeen van die finaliste tydens die finaal iets uniek na die verhoog en na alternatiewemusiekaanhangers se ore gaan bring. Ek’s net bly dat ek nie op die beoordelaarspaneel dien nie!”
Vanjaar se beoordelaars tydens die finaal is Jaco (van der Merwe), Augusta Zietsman, op die verhoog bekend as Sossi, en Paul Riekert, voorbok van die grensverskuiwende groep Battery 9, terwyl Peach van Pletzen en Yo Nax, saam bekend as Van Pletzen, die gasbeoordelaars en gaskunstenaars is.
Die finaal vind soos verlede jaar weer as deel van die Woordfees by die Daisy Jones Bar in Stellenbosch plaas.
Vanjaar se finaliste is:
Gktimo
Katjie
Konstant Wiesner
Landi Lu
Lelies en Roos
Likkewaan
Luzelle
Pous Calla
Tatum
TWO
Kaartjies vir die finaal is reeds aanlyn teen R250 beskikbaar en sal ook op 4 Oktober teen R280 by die deur te koop wees.
Hou asseblief Ruk en Rym se Facebook- en Instagram-blaaie dop vir meer inligting oor die kompetisie. Vind meer uit oor Taalgenoot-Ruk en Rym by www.rukenrym.co.za.
Taalgenoot-Ruk en Rym word moontlik gemaak danksy die ondersteuning van Alternatief in Afrikaans, ATKV-Oorde, kykNET, Locally Yellow, Marshall Music, NUUS in Afrikaans, Railways Café, Sonder Ink, Spotify, Steyn IP, Studentejol, The Daisy Jones Bar, The Nothing Club, The Paperclip, die Toyota Stellenbosch Woordfees en Wêreld.