RUK EN RYM: Klankryke musiekhoofstuk ingelui
Die Taalgenoot-RUK EN RYM-finaal op Saterdag 12 Oktober was ’n alternatiewe smeltkroes vol vonkende talent. Die eindronde van dié kompetisie vir alternatiewe klankskeppers wat musiek met Afrikaanse lirieke maak, volg ná twee semifinale rondes – een by Railways Café in Centurion en die tweede by die Daisy Jones Bar as deel van die amptelike program van die Toyota Stellenbosch Woordfees.
Die beoordelaarspaneel vir al drie geleenthede was die sangeres en aktrise Augusta Zietsman, Jaco van der Merwe (Bittereinder/Walkie Talkie) en Paul Riekert (Battery 9). Henco Harmse (Spotify) was die gasbeoordelaar by die eerste semifinaal, Karen Zoid by die tweede en Jolyn Phillips en Zaan Sonnekus by die finaal. Sonnekus het ook by laasgenoemde as gaskunstenaar opgetree, terwyl die wenners van verlede jaar se kompetisie, PARKIEGRA$, De Pozi, Hendriek Bleik en SAMPAULE gaskunstenaars was tydens die semifinale rondes.
Gedurende die semifinale rondes het 20 groepe en kunstenaars meegeding om ’n kans om as 2024 se RUK EN RYM-wenners aangewys te word, maar toeskouers ook diep onder die indruk gebring van die opwindende onderstrominge wat op die alternatiewe toneel aan die rondspoel is.
Die wenners van Taalgenoot-RUK EN RYM 2024 is:
- Vierdeplekwenners: Die Bom en die Ster (Alabama, Klerksdorp)
- Derdeplekwenner: Just Mia (Randburg)
- Naaswenners: Die FakboiZ (Bellville)
- Wenners: Dierbaar na die Maan (Stellenbosch)
RUK EN RYM is vanjaar vir die tweede keer aangebied nadat hierdie geesteskind van die ontslape Taalgenoot-redakteur, Johan Jack Smith, in 2023 vir die eerste keer ’n platform eksklusief aan alternatiewe musikante gebied het.
“Hierdie jaar se finaal het die beoordelaars regtig weggeblaas,” sê Jaco van der Merwe, kreatiewe regisseur van Taalgenoot-RUK EN RYM.
“Al tien kunstenaars was verskriklik innoverend en oorspronklik en dit was ’n groot verskeidenheid genres en ’n wye verskeidenheid klanke. Dit was baie bemoedigend om die feit bevestig te hê dat Afrikaanse musiek nié ’n genre is nie, maar dat Afrikaans as ’n taal gebruik word om op baie verskillende maniere uitdrukking te gee. Daar was ’n gevoel dat enige van die tien kunstenaars kon wen.
“RUK EN RYM is eerstens ’n epiese ontdekkingsveldtog en tweedens ’n gemeenskapsbouprojek, ’n manier op mense met mekaar te connect – nie net nuwe luisteraars met musiek nie, maar ook die kunstenaars met mekaar,” sê Jaco.
Janke Mostert, Afrikaansonderwyser en die voorsanger van die wengroep, Dierbaar na die Maan, sê hulle was aangenaam verras om te hoor hulle stap met die louere weg.
“Ons was regtig verbaas, want ons is nog net vir twee maande amptelik ’n band en dit [die RUK EN RYM-finaal] was ons agste gig ooit – maar nie net dít nie. Ons was verbaas, want elke keer as daar nog ’n finalis optree, dan dink ons, hiérdie persoon gaan wen. Ons was oorstelp deur al die talent wat rondom ons was.
“RUK EN RYM is vir ons ’n fantastiese geleentheid. Ons waardeer al die moeite wat die organiseerders gedoen het en dis vir ons verblydend dat mense dit wil doen vir alternatiewe [musiek in] Afrikaans. Ons het beslis ’n paar lewenslange vriende langs die pad gemaak. Ons sien uit na die toekoms van alternatiewe musiek in Afrikaans en dit is regtigwaar vir ons ’n reuse-eer om hierdie jaar van die kompetisie te kon deel wees,” sê Janke.
Angie Gallagher, senior subredakteur by die ATKV en assistentregisseur van Taalgenoot-RUK EN RYM, sê die kompetisie maak haar opgewonde oor die nuwe alternatiewe beweging wat besig is om in Afrikaans wortel te skiet.
“RUK EN RYM het vir ons positiewe protes teen die uitdagende status quo van die dag gebring, waar kwessies nie ontken word nie, maar daar ’n gedeelde sentiment is wat spreek van samewerking en mekaar opbou en ophef.
“Op geen ander verhoog sal jy soveel verskeidenheid sien en hoor nie. As dít die blik is op jongmense se uitdagings en hul manier om mekaar te onderskraag, is daar lig op die horison. RUK EN RYM moedig vernuwing en samewerking aan en die kompetisie is die teelaarde vir Afrikaanse musiek se volgende hoofstuk. Dit is vir die ATKV werklik opwindend om daarby betrokke te kan wees,” sê Angie.
Die wenners stap nou weg met ’n verskeidenheid pryse wat wissel van geskenkbewyse en kontantpryse tot die geleentheid om snitte op te neem en musiekvideo’s te maak. Vanjaar se kompetisie is met trots geborg en ondersteun deur Wêreld, Spotify, Sonder Ink, Steyn IP, Planet Awesome, Alwyn Bekker Studios, Marshall Music, Squint Eye Films, ETG Productions en Vellie Boutique.
Om op die hoogte te bly van RUK EN RYM-nuus, volg Taalgenoot-RUK EN RYM op Facebook en Instagram, of besoek www.rukenrym.co.za. Vir navrae, kontak asseblief vir Angie Gallagher by angieg@atkv.org.za, of stuur ’n WhatsApp-boodskap na 061 424 3132.