Ruk op – dis tyd vir riel!
As kaperjolle, askoek, en vlerksleep vir jou volksvreemd klink as dit by dans kom, moet jy maar ’n plan maak om na die ATKV se Rieldansfinaal te kom en uit te vind hoe dié danspassies lyk.
Op 9 Desember kom 15 rieldansgroepe in Clanwilliam byeen om te dans dat die stof so staan en mee te ding om as die rieldanskampioene gekroon te word.
Dié geleentheid is altyd ’n hoogtepunt op die ATKV se kalender en rieldansers kom van heinde en verre om hul danspassies ten toon te stel.
“Dit is altyd ’n belewenis. Dit lok mense van regoor die land. Dit is die ideale geleentheid om moderne en tradisionele riel te ervaar en net agteroor te sit en die dag te geniet,” sê Benjamin Bock, projekorganiseerder.
Volgens hom gaan vanjaar se finaal weer van ’n hoë gehalte wees.
“Die rieldansers bring ’n fantastiese energie na die kompetisie en hulle het baie ure ingesit om hulle riel te verfyn.”
Behalwe vir rieldans sal daar ook verskeie kosstalletjies vir die smulpape wees.
“Selfs al is jy nie bekend met rieldans nie, is dit steeds ’n dag wat jy kan kom geniet. Mense sal beslis nie verveeld wees nie en daar is iets vir oud en jonk,” sê Benjamin.
Volgens hom is dit belangrik om die riel as kultuurskat te bewaar en te bevorder.
“Riel is deel van ons kultuurerfenis. Dit is ’n alternatief wat jongmense ook betrek en ’n tuiskoms vir hulle bied. Dit skep ’n trots onder jongmense en die tradisie van rieldans skep ’n trots vir jou komvandaan.
“En dan is dit ook nog ’n dansvorm. Dans is universeel en baie Suid-Afrikaners sal by riel aanklank vind,” sê Benjamin.
Kom riel saam met die ATKV op 9 Desember 2023 by die sportveld in Parkstraat, Clanwilliam. Hekke open om 08:00 en die dag begin om 10:00. Die toegangsfooi is R50 vir volwassenes en R30 vir kinders onder 15. Kry joune by die hekke van die sportveld of by die toerismeburo in Clanwilliam.