Salvador Mouers vier Moedersdag met nuwe lied
Die Namibiese sanger en liedjieskrywer, Salvador Mouers, nou ook ’n ATKV-Crescendo opnamekunstenaar, gee hierdie Moedersdag ’n diep persoonlike huldeblyk aan ma’s met sy nuwe enkelsnit, “Huis sonder ’n moeder.” Die lied, deurdrenk van eerlikheid en rou emosie, is ’n refleksie op sy eie grootwordjare en die onmiskenbare rol wat sy ma in sy lewe gespeel het.
Met musiek wat gewortel is in geloof, familie en ware lewensverhale, bly Mouers getrou aan sy styl – eerlik en sonder versiering. “Huis sonder ’n moeder” is geen uitsondering nie.
“Die lied is geïnspireer deur my waardering vir my ma en alles wat sy vir ons gedoen het en nog steeds doen,” sê Mouers. As oudste seun in ’n gesin van vyf kinders, grootgemaak deur ’n enkelma, dra hy eerstehands kennis van opoffering, deursettingsvermoë en onvoorwaardelike liefde.
Hoewel daar nie een spesifieke oomblik was wat die lied laat ontstaan het nie, beskryf hy dit as ’n sameloop van herinneringe – van moeilike dae tot tye van oorwinning.
“Dit was nie altyd maklik nie, maar my ma het altyd gesorg dat ons iets het om te eet, dat ons gebid het, en dat ons deur die skool kom.”
Met hierdie vrystelling hoop Mouers om luisteraars te laat stilstaan met waardering en dankbaarheid. Die lied is ’n eerlike weergawe van sy eie lewe – iets wat vir hom natuurlik kom.
“Ek het dit uit first-hand experience geskryf. Ek steek nie weg waar ek vandaan kom nie.”
Die produksie is behartig deur Jean-Marc Meyer van Minnelied Production Studio, terwyl Mouers self die lied geskryf het. Die resultaat is ’n egte stuk werk wat diep sny, maar ook troos
bring.
As deel van sy persoonlike EP, Binne, wat tans beskikbaar is op alle digitale platforms, staan hierdie snit uit as een van sy mees intieme vrystellings nog – ’n lied vir sy ma, maar ook vir elkeen wat al die krag van ’n moeder se liefde beleef het, of die gemis daarvan dra.
Met “Huis sonder ’n moeder” bevestig Salvador Mouers weereens sy plek as ’n storieverteller wat nie bang is om sy hart oop te maak nie.
Luister hier na die liedjie op Spotify: https://open.spotify.com/track/4swDiXyhNYqScFYjV7Md3a?si=7611539e1f174ba9
Luister hier na die liedjie op Apple Music: https://music.apple.com/us/song/huis-sonder-n-moeder/1888801471
Volg Salvador Mouers op sosiale media:
• Instagram: @salvadormouersmusic
• Facebook: Salvador Mouers Music
• TikTok: @salvadormouersmusic
Volg ATKV-Crescendo op sosiale media:
- Facebook: https://www.facebook.com/atkvcrescendo/
- Instagram: https://www.atkv.crescendo
Vir verdere inligting of onderhoude, kontak gerus vir Marzahn Botha per e-pos by marzahn.botha@gmail.com of telefonies by 082 642 5812. Radiospesifieke navrae kan gerig word aan Gershwin Koen per e-pos by gk@gershwinandthemusic.com of telefonies by 076 425 4202.