Selby se ritmiese enkelsnit ruk jou reg
Die gewilde sanger en liedjieskrywer Selby Williams, wat met liedjies soos “Deur die vallei” en “Unhu Hwangu” nommer-een-status bereik het op verskeie radiostasies, skop 2026 af met ’n sielvolle nuwe enkelsnit, “Fix the vibe”, wat jou tone van lekkerkry sal laat krul, en jou lus sal maak om te dans.
Selby se musiek is altyd vol siel en hy glo vas dat hy met elke noot en elke liriek hoop wil bring vir die mense wat luister. Met hierdie enkelsnit wil Selby selfs nog meer tot Suid-Afrikaners spreek om lig te bring en om te kyk na alles wat moontlik is, en die liedjie moedig almal aan om saam te staan.
Selby glo in die reënboognasie, en glo in Suid-Afrikaners se veerkragtigheid. As ATKV-Crescendo-opnamekunstenaar het Selby sy eerste EP in 2024 bekendgestel, en in 2025 het die enkelsnit “In die stilte”, wat deur sy mede-Crescendo kunstenaar Lize-Marie Naude geskryf is, gevolg.
Nou bring Selby “Fix the vibe”, wat hy in samewerking met die Afri-Indie-toekenning-wenner, vervaardiger Jean-Marc Meyer, geskryf het. “Fix the vibe” is die tweede lied van Selby waarvan hy die vervaardiger is. Jean-Marc sê, “Selby het ’n multikulturele aanslag in sy musiek, en hy is iemand saam met wie ek baie graag werk. Ons vertrou mekaar se oordeel ten opsigte van die musiek en komposisie, wat die samewerking baie natuurlik en eerlik maak.”
“Fix the vibe” het ’n multidimensionele musikale aanslag en country-, Afrika- en eg Suid-Afrikaanse volksklanke is alles verpak in ’n kontemporêre samestelling wat dit by elke luisteraar sal laat aanklank vind.
Hoekom moet Suid-Afrika ag slaan op hierdie kunstenaar en hierdie lied? In die woorde van Jean-Marc Meyer: “As ons na die lied kyk, is dit ’n aangename luisterervaring wat enige tyd van die dag bemoediging vir die luisteraar kan bring. Wat ek veral waardeer, is dat Selby ’n geestelike grondslag subtiel by die lied insluit, terwyl hy dit kombineer met lirieke waarmee mense van alle kulture kan identifiseer en hulle mee kan vereenselwig.”
Kom luister saam en laat “Fix the vibe” jou 2026-temalied wees!
“Fix the vibe” is vanaf 27 Februarie op alle stromingsplatforms beskikbaar.