Selby Williams hou tuisdorpkonsert
Een van ATKV-Crescendo se finaliste, Selby Williams, het onlangs sy Homecoming-konsert, of “tuisdorpkonsert”, in Worcester gehou.
Luisteraars sal hom herken as die sanger van die treffersnit “Deur die Vallei”, wat tans op meer as 30 radiostasies en gereeld op RSG gespeel word.
Dié boorling van Worcester met die suiwer stem en inspirerende lirieke was in 2022 ’n finalis van ATKV-Crescendo.
Selby se EP heet Hier is Ek, met die titelsnit “Hier is ek”, en ander snitte, “Wat is my doel?”, “Unhu Hwangu” (feat. Marsha), “Deur die Vallei” en “Verewig en nou”.
Selby se eerste enkelsnit, “Verewig en nou”, het reeds goeie speeltyd op radiostasies kry, maar met “Deur die Vallei”, geskryf deur en opgeneem saam met ’n ATKV-Crescendo-legende, Deon Meiring, is die moontlikhede so eindeloos soos die uitgestrektheid van dié Bolandse vallei.
Die res van die liedjies het Selby self geskryf. “Unhu Hwangu” is saam met ’n ander ATKV-Crescendo-finalis, Marsha Bothma, geskryf.
Alles vir ’n tuisdorpkonsert
“My musiek is al verlede jaar in Augustus vrygestel. Ek wou reeds toe al iets in die Kaap-omgewing doen, maar die beplanning het dit nie toegelaat nie. Dit was nou die regte geleentheid om in samewerking met ATKV-Crescendo – en juis omdat dit hulle 50ste bestaansjaar is – eerder ’n tuisdorpvertoning as ’n bekendstelling aan te bied.
“Ek het nie regtig ’n tema gehad nie, maar wou dit baie graag intiem hou met ’n handjievol mense van so tussen 70 en 80 jaar oud. Ek wou praat oor my paadjie in musiek en hoe ek met ATKV-Crescendo gegroei het.
“Dan wou ek ook net graag iets by die huis doen sodat my ouers, familie en goeie vriende dit saam met my kan vier. ’n Paar vriende, soos Marsha wat saam met my ’n finalis was in 2022, het ook opgetree. Dan was Gracia ook daar, wat een van ons mentors en ’n goeie vriendin is by ATKV-Crescendo. Jason Baartman, ’n finalis van 2023, saam met nog ’n goeie vriend en ’n plaaslike kunstenaar van dié dorp, Olaf Wesche, was ook daar.
Volgens Selby was dit ongelooflik om saam met Deon te werk. “Dit was baie humbling en tog so maklik, want hy was net so oop vir die idee en het vir my die vryheid gegee om die liedjie myne te maak.
“Dan het Helmut Meijer, die vervaardiger vir hierdie weergawe van ‘Deur die Vallei’, in die ateljee getoor.”
“ATKV-Crescendo het my herinner om aan te hou droom en dat jou drome waar kan word met die nodige harde werk. Ek kan net dankie sê vir die waarde wat hulle in my talent gesien het en hoe hulle daarin belê,” sê Selby.
’n Aanwins vir ATKV-Crescendo
Volgens Morné van Staden, projekkoördineerder, het ATKV-Crescendo Selby gekies as een van drie finaliste van daardie jaar om ’n EP (enkelspeelplaat) bekend te stel.
“Aan al drie is ’n begroting toegeken wat hulle self moes bestuur. Dit het ook alle ooreenkomste en onderhandelinge ingesluit, wat beteken dat elkeen met ander musikante, musikale regisseurs, publisiteitsagente, bemarkingagente, fotograwe en ’n videograaf moes onderhandel.
“Die opdrag was eenvoudig: Neem ’n EP met vier liedere op, asook ’n lied van ’n vorige ATKV-Crescendo-legende, wat hulle moes herverpak as ’n solosnit of in samewerking met die legende. Elkeen moes ook ten minste een musiekvideo maak,” sê Morné.
“Selby het sy EP opgeneem, met twee musiekvideos en ’n samewerking met kunstenaar Deon Meiring, wat ’n finalis van ATKV-Crescendo in die vroeë 2000’s was.”
Die tweede opdrag was dat elke finalis met ’n voorafbepaalde begroting ’n bekendstellingskonsert vanaf 1 Maart moes organiseer vir hul EP.
Volgens Morné is Selby se toewyding tot sy loopbaan, sy deursettingsvermoë en die positiewe gesindheid waarmee hy alles aanpak deel van die redes hoekom hy gekies is om die pad saam met ATKV-Crescendo te stap.
“Natuurlik is Selby se talent as sanger-liedjieskrywer ’n baie groot aanwins, nie net vir ATKV-Crescendo nie, maar ons weet vir die totale Suid-Afrikaanse en Afrikaanse mark. Ons ondersteun sy loopbaan heelhartig en weet dat hy nog groot sukses sal behaal.”