Selby Williams stel debuutalbum vry
Sanger en liedjieskrywer Selby Williams (29), ʼn boorling van Worcester, het sy musikale reis neergepen en sien uiteindelik die vrugte van sy harde werk met die vrystelling van sy eerste album, Hier is Ek.
Dié album is kort op die hakke van sy debuutenkelsnit met dieselfde naam. Hierdie liedjie, wat baie goed ontvang is, reflekteer volgens Williams die pad wat hy geloop het om te wees waar hy vandag is.
“Ek kyk terug op my lewe en sien ʼn klein seuntjie in Avianpark met ʼn droom. Ek was al verwerp en teleurgesteld. Daar was tye wat ek alleen gevoel het, maar my geloof het my staande gehou,” verduidelik hy.
Dié sielvolle sanger dra Hier is Ek op aan sy pa wat, ten spyte van moeilike omstandighede, net sy absolute bes gegee het.
“Die liedjie gaan oor my verhouding met my hemelse Vader, maar terselfdertyd gaan dit ook oor my pa wat net nooit opgegee het nie.”
Nóg ʼn gunsteling is Unhu Hwangu, ʼn liedjie wat na ʼn Shona-frase verwys, wat handel oor jou verhouding met ander.
“Hierdie liedjie is ʼn herinnering dat ons almal mekaar nodig het. Mense is so geneig om net aan hulself te dink en nie ander te help nie. Ek glo daar kom altyd ʼn tyd wanneer jy van iemand anders afhanklik is. Soms moet jy op ander steun al is jy hoe ryk en hoe sterk.”
Williams het grootgeword met ʼn liefde vir musiek. Hy het dikwels saam met sy ouma gesing deur die liedjies wat oor die radio speel na te boots.
Gebore en getoë in Avianpark, Worcester, wat een van die Wes-Kaap se gevaarlikste gemeenskappe is, vertel Williams hoe baie kinders deel van bendes geword het of hul drome van sukses net laat vaar het. Hy het egter aanhou glo dat daar meer aan die lewe is en dat sy drome wel eendag waar gaan word.
Hy het vir die ATKV-Crescendo se mentorskapprogram ingeskryf en glo dat hierdie ervaring sy liefde vir musiek bevestig het.
“Deur ATKV-Crescendo het ek my eerste enkelsnit opgeneem en dit het my met ander oë na myself laat kyk.”
Die grootste gedeelte van sy debuutalbum is opgeneem deur Sunset Recording Studios in Stellenbosch.
“Dit was vir my ʼn lewensveranderende ervaring. ATKV-Crescendo het my laat voel dat hulle groot waarde in my en my kuns sien. Ek kon nie glo hoeveel die ATKV bereid was om in my te belê nie.
“Om saam met Jürgen von Wechmar in sy goed toegeruste studio op te neem, was wonderlik, maar om te sien hoe mense in my en my talent glo, was ongelooflik,” vertel hy.
Wat’s my Doel is een van die liedjies wat in Sunset Recording Studios opgeneem is. Williams noem dat hierdie liedjie gaan oor wanneer ʼn mens voel dat niks uitwerk soos jy gehoop het dit sou nie.
“Mense verwag sekere goed van jou en self het jy ook sekere verwagtings, maar soms voel dit of net niks uitwerk nie. Dit is waaroor hierdie liedjie gaan.”
Ten spyte van sy sterk verhoogpersoonlikheid was hy ʼn skaam tiener. “Daar is so baie druk op skool om deel van ʼn groep te wees en êrens te behoort, maar my liefde vir musiek het nooit getaan nie.
“ATKV-Crescendo het my potensiaal erken en ontwikkel, maar terselfdertyd het ek talentvolle kunstenaars soos Marsha Bothma ontmoet wat saam met my Unhu Hwanu geskryf het.”
Die album Hier is Ek is op alle stromingsplatforms beskikbaar, met die titelsnit se video wat te sien is op YouTube, https://www.youtube.com/watch?v=Dfd2musR-xM