Simbiotiese sestien mik nou vir die kollig
Die gewildheid van die ATKV se eie realiteitsreeks vir televisie, Gekies vir die Kollig, was duidelik te sien uit die kykertalle van dié program, wat uitgesaai is op VIA, DStv-kanaal 147. Deelnemers aan ATKV-DigiToneel kan in 2024 weer die geleentheid kry om hul spel vir die kamera te ontwikkel en moontlik vanjaar hul buiging op TV te maak.
ATKV-DigiToneel is ’n voorloperplatform vir tieners om hul eie monoloë onder ’n temawolk te skryf en dan vir beoordeling te verfilm.
Vanjaar put ons inspirasie uit die konsep simbiose.
2024 is ’n simbiotiese vieringsjaar van samelewing, wedersydse ondersteuning, intieme verhoudingbou en samewerking met ’n gesamentlike doel om ons kinders die lig op die horison te wys en vir hulle ’n stem te gee sodat hul stories kan vlieg en ook die eiendom van ander word.
Die volgende woorde in die simbiotiese temawolk was die wegspringplek vir skrywers, kinematograwe en akteurs se nuwe monoloë:
- SAAMLEEF
- MENG
- KOÖPERASIE
- MAGSDELING
- DEMOKRASIE
Inskrywings het weereens ingestroom en dit het kopkrap geverg om die top-16 aan te wys.
Mentors Liezl de Kock, Jacques Bessenger, Lindsey Cele en Marlo Minnaar is dit eens: “Ons is verstom oor die gehalte van die werk.”
Met ATKV-DigiToneel is daar geen kortpaaie deur byvoorbeeld bestaande werk af te stof en nuut aan te bied nie. Die doel met ATKV-DigiToneel is om nuwe werk te skep en dit vir kamera te verfilm.
JJ van Niekerk, projekorganiseerder van ATKV-DigiToneel, sê die groei in die kwaliteit van vanjaar se inskrywings spoor die span wat deel is van die projek aan om nog verder aan die kreatiewe vraag te probeer voldoen.
“Dit maak nie saak watter temas ons vir hierdie tieners gooi nie, hulle skep kreatiewe karakters met interessante storielyne wat jou binne vyf minute boei,” sê JJ.
Almal wat ingeskryf het, ontvang benewens hul toekennings vir prysenswaardige prestasie in die eerste ronde ook persoonlike stemnotas van twee mentors op die paneel, wat hulle kan gebruik om hul werk te verfyn.
Die top-16 skaaf nou aan hul inskrywings en word dan verder deur nog twee beoordelaars gementor op hul reis na die nasionale eindronde, wat in Oktober tydens die vierde seisoen van Gekies vir die Kollig op VIA uitgesaai sal word.
Die top-16 is:
Naam van deelnemer |
Produksie |
Skool |
Darren Cloete |
Maskers |
Hoërskool Jan van Riebeeck |
Izaan Kotze |
Sprokie in suburbia |
Hoërskool Ben Viljoen |
Jesse Nel |
Hoe om ’n Red Piller te skep |
Hoërskool Stellenbosch |
Keagan Cooper |
Toneel is tydmors |
Hoërskool Noordheuwel |
Lenadri Groenewald |
Die wêreld agter die witbord |
Hoërskool Noordheuwel |
Line Allen |
Eerste asem |
Hoërskool Noordheuwel |
Luan Kleingeld |
RECYCLE ME |
Hoërskool Noordheuwel |
Marelee Ferreira |
In my kop |
Curro Windhoek Gymnasium |
Marionè Muller |
Woorde in die water |
Hoërskool Hugenote |
Nicole de Klerk |
KOËVOLUSIE VAN SESTIG |
Hoërskool Randburg |
Nina Strydom |
Tree hugger |
Hoërskool Parel Vallei |
Rico Immelman |
Veertig sekondes van vryheid |
Hoërskool Noordheuwel |
Somari Ryan |
Ek brou ’n boyfriend met (Mrs) Balls |
Hoërskool Noordheuwel |
Toby de Ruiter |
Hoorsê |
Hoërskool Jan van Riebeeck |
Zanike Marshall |
Kaalgat diere |
Hoërskool Swartland |
Zanje Bodenstein |
Oor jy grond brand |
Hoërskool Die Wilgers |
Hou die ATKV se webwerf en sosialemediablaaie dop wanneer die top-8 op 3 Junie aangekondig word.
’n Digitale bundel met die toptekste (wat ’n goue [80-89%] of cum laude- [90-100%] toekenning ontvang het) word ook in Oktober bekendgestel.
Kyk hier na die bekendmaking van die top-16: