Simbiotiese talent tydens ATKV-Toneelfinaal bekroon
’n Swaargewig-beoordelaarspaneel moes behoorlik kopkrap om die wenners van die gewilde ATKV-Tienertoneel- en ATKV-Tjokkertoneelkompetisies aan te wys danksy simbiotiese tieners en tjokkers wat met hul passie die verhoog aan die brand gespeel het.
Niemand anders nie as die Hoërskool Parel Vallei in Somerset-Wes met VIR SPOT het daarin geslaag om die beoordelaars met hul puik spel te oorrompel en is as die nasionale ATKV-Tienertoneelwenner aangewys.
Die Hoërskool Parel Vallei het ook die tweede plek behaal met die produksie 99 Luftballons.
Die Curro Durbanville Hoërskool met Mensdom is as die derdeplekwenner van ATKV-Tienertoneel 2024 aangewys.
Die tweede amptelike ATKV-Tjokkertoneelfinaal was deel van die simbiose ATKV-Toneelfinaal en die Laerskool De Hoop met Dertien het met die louere weggestap as die nasionale ATKV-Tjokkertoneelwenner vir 2024.
Die ATKV-Toneelfinaal het plaasgevind vanaf 23 tot 28 September in die Kunstekaap in Kaapstad. Die beste jong toneeltalent is tydens ’n spogprysuitdeling op 28 September aangewys.
’n Simbiotiese aanbieding van kleur, klank en choreografie, verweef met kwinkslae van die akteur en komediant Solomon Cupido as seremoniemeester, het gesorg vir ’n simbiotiese ervaring soos min.
Gerrie Lemmer, uitvoerende hoof: kultuur by die ATKV, het tydens die opening van die ATKV-Toneelfinaal beklemtoon dat teater ’n onontbeerlike rol in die samelewing speel.
“Teater vorm ’n spieëlbeeld van wat in ’n land en in ’n gemeenskap gebeur en omdat dit konkreet en visueel ewige waarhede vergestalt, is die voortbestaan van teater uiters belangrik. Teater kommunikeer essensieel deur middel van woord en herhaling en bou só op ’n besondere wyse aan ’n jong generasie se kultuur. Die kunste is ook fundamenteel tot ons bestaan. Jongmense se drama, tekste, lirieke en opvoerings verryk en inspireer ons, dit bevorder kreatiwiteit en verenig gemeenskappe,” het Lemmer gesê.
Hy het ook die ATKV se rol in die bevordering van teaterkuns onder die jeug onderstreep.
“Deur die aanbied van Tienertoneel, Tjokkertoneel en Sêr wil die ATKV die verskillende voordele wat teater en musiek oor die algemeen inhou, beklemtoon. Ons glo dat dit belangrik bly om te skep, by te dra en passievol op hierdie gebied deel te neem.
“Die kunste verbeter ongetwyfeld individuele welsyn, dit versterk akademiese prestasie en laat kreatiwiteit en vernuwing opvlam. Dit het ’n positiewe invloed op individuele keuses en aksies. Dit vorm ons inklinasies, motiewe, begeertes, emosies, keuses en praktyke, sodat dit in diens staan van ʼn goeie en mooi wêreld.”
Die beoordelaars, Jacques Bessenger, Mari Molefe van Heerden, André Lötter, Liezl de Kock, Lindsey Cele, Solomon Cupido en Marlo Minnaar was dit eens dat die top-16-produksies tydens die ATKV-Toneelfinaal kreatiewe en simbiotiese baanbrekerswerk is en dat die toekoms van die teater met sulke talent en innovasie kerngesond is.
Meer as 3 200 grenslose tieners van regoor Suid-Afrika het vanjaar aan die ATKV-Tienertoneelkompetisie deelgeneem en die top-10-produksies is na die nasionale finaal genooi.
Hier volg ’n volledige lys van wenners tydens ATKV-Tienertoneel 2024 se nasionale finaal:
Die beste verhoogbestuurder is Kiara Mahoney van die Hoërskool Parel Vallei in die produksie 99 Luftballons.
Die beste klankoperateur is Agu Holzapfel in die produksie 99 Luftballons van die Hoërskool Parel Vallei.
Die beste beligtingsoperateur is Dylan Karsten in die produksie Wat wolke weeg van die Hoërskool Hugenote Springs.
Die beste hantering van tegniese aspekte is 99 Luftballons van die Hoërskool Parel Vallei.
Die mees belowende spel in ’n rol behoort aan Liza Stolz as Priska in die produksie Kou my vingers tot die been van die Hoërskool Eldoraigne.
Die beste akteur in ’n ondersteunende rol is Sebastian van Niekerk as Sebastian in die produksie VIR SPOT van die Hoërskool Parel Vallei.
Die beste aktrise in ’n ondersteunende rol is Alexia Retief as Zandria in die produksie Teddie et al. van die Hoërskool Zwartkop.
Die beste akteur in ’n hoofrol is Francois Retief as Spot in die produksie VIR SPOT van die Hoërskool Parel Vallei.
Die beste aktrise in ’n hoofrol is Inge Dippenaar as Dood in die produksie Mensdom van die Curro Durbanville Hoërskool.
Die beste ensemblewerk is toegeken aan 99 Luftballons van die Hoërskool Parel Vallei.
Die beste regisseur is Darryl Spijkers vir die produksie VIR SPOT van die Hoërskool Parel Vallei.
Die beste media-en-bemarkingsportefeulje tydens die ATKV-Tienertoneelkompetisie vir 2024, wat ook ’n kontantprys van R5 000 ontvang, is die Paul Roos Gimnasium vir uitnemende en volgehoue bemarking van die produksie Kantlyn
Die ATKV word jaarliks deur produksiehuise genader vir die land se nuutste en beste talent wat die jaar opgelewer het.
Die ATKV het daarom vanaf 2024 tydens die nasionale finaal ook ’n ATKV-agentlys saamgestel en bied aan elke akteur wat bekroon word die belofte van ’n bemarkbare profiel as prys sodat hulle die industrie met selfvertroue kan ingaan.
Dit is ’n verdere opwindende en geakkrediteerde geleentheid vir ons deelnemers wat presteer in die ontwikkeling van toneelvaardighede.
Die ATKV-AGENT-akteursrol vir 2024,soos aangekondig deur Gerrie Lemmer, is
- Francois Retief;
- Inge Dippenaar;
- Sebastian van Niekerk;
- Darren Cloete;
- Etienne Dannhauser
Die beste produksie en wenner van R30 000, asook die ATKV-Tienertoneelwisseltrofee, is die Hoërskool Parel Vallei met VIR SPOT .
Hierdie waardige wenner is ook op 5 en 6 Oktober tydens die Toyota Stellenbosch Woordfees te sien.
Meer as 920 grenslose tjokkers van regoor Suid-Afrika het vanjaar aan die ATKV-Tjokkertoneelkompetisie deelgeneem en die top-6-produksies is na die tweede nasionale finaal vir tjokkers genooi.
Hier volg ’n volledige lys van wenners tydens ATKV-Tjokkertoneel 2024 se nasionale finaal:
Die beste hantering van tegniese aspekte deur tjokkers is Dertien van die Laerskool De Hoop.
Die beste tjokkerakteur is Ruben Pfaff as Alexander Lombard, Juf. Geduld, busbestuurder in die produksie Dertien van die Laerskool De Hoop.
Die beste tjokkeraktrise is Berné Peters as Ouma in die produksie Dertien van die Laerskool De Hoop.
Die beste tjokkerensemble is toegeken aan Dertien van die Laerskool De Hoop
Die beste tjokkerregisseur is Samuel Jumat in die produksie Dertien van die Laerskool De Hoop.
Die beste produksie en wenner van R10 000, asook die ATKV- Tjokkertoneeltrofee,is Dertien van die Laerskool De Hoop.
Kyk na die volledige simbiotiese prysuitdelingseremonie op 28 September 2024.
Blaai hier deur ’n fotoalbum met hoogtepunte van ons simbiotiese wenners.
Foto’s is geneem deur Nardus Engelbrecht.