Simbiotiese top-8 na ‘Gekies vir die Kollig’ genooi!
Die ATKV se eie TV-realiteitsreeks, Gekies vir die Kollig, is in 2024 weer op pad na jou skerm, en hierdie keer met ’n simbiotiese temawolk. Vanjaar sê die vier mentors mekaar weer die stryd aan! Elke mentor neem twee van die agt finaliste op die stel van Gekies vir die Kollig onder hul vlerk en gee advies en raad oor die top-8 se opnames, voordat ’n splinternuwe paneel, wat die finaliste se werk nog glad nie gesien het nie, die finale opnames beoordeel om vanjaar se wenner van ATKV-DigiToneel te bepaal.
Die wenmentor van seisoen 3, Solomon Cupido, is die aanbieder vir vanjaar se Gekies vir die Kollig-seisoen en hy is opgewonde om ook agter die skerms sy wenke met die top-8 te deel, veral ná sy onlangse rol as vervaardiger, regisseur en akteur in die Afrikaanse film Frankie en Felipé.
JJ van Niekerk, projekorganiseerder van ATKV-DigiToneel, sê hy is opgewonde om te sien hoe die simbiose-tema in ’n nuwe, opwindende ligging die spelers gaan slyp vir die finale ronde. “Die talent is uitsonderlik en ek is daarvan oortuig dat die resep, met mentors wat saam in die bokskryt klim, die heel beste in die top-8 gaan uitbring.”
Die vier mentors tydens vanjaar se kompetisie is Jacques Bessenger, Lindsey Cele, Marlo Minnaar en Liezl de Kock.
Die top-16 het geskaaf aan hul inskrywings na gelang van die terugvoer wat hulle ontvang het tydens die eerste ronde en die mentors moes kopkrap om die top-8 aan te wys.
Die top-8 word nou genooi na die stel van Gekies vir die Kollig, waar hulle nog meer ondervinding gaan opdoen deur met ’n kameraspan en hul mentors te werk voor hul finale opnames deur ’n nuwe paneel beoordeel word.
Die top-8 is:
Naam van deelnemer |
Produksie |
Skool |
Darren Cloete |
Maskers |
Hoërskool Jan van Riebeeck |
Izaan Kotze |
Sprokie in suburbia |
Hoërskool Ben Viljoen |
Keagan Cooper |
Toneel is tydmors |
Hoërskool Noordheuwel |
Marelee Ferreira |
In my kop |
Curro Windhoek Gimnasium |
Marionè Muller |
Woorde in die water |
Hoërskool Hugenote Springs |
Nicole de Klerk |
KOËVOLUSIE VAN SESTIG |
Hoërskool Randburg |
Nina Strydom |
Tree hugger |
Hoërskool Parel Vallei |
Rico Immelman |
Veertig sekondes van vryheid |
Hoërskool Noordheuwel |
Maak gereed vir ’n simbiotiese seisoen van Gekies vir die Kollig wat Maandae vanaf 14 Oktober 2024 op VIA (DStv-kanaal 147) in jou sitkamer kom kuier.
Kyk hier na die aankondiging van die top-8: