Skerp? Nee, vlymskerp!
Die Vlymskerp-vasvra was dié jaar weereens ’n rasende sukses en deelnemers het nie teruggehou om te wys wie weet wát nie. Hierdie interskolevasvra is ’n opwindende, prettige ervaring om jongmense se algemene kennis te toets.
Voorheen slegs vir hoërskole, was daar dié jaar ook ’n kategorie vir laerskole. Christie Swanepoel, ATKV-streeksbestuurder: Oos-Kaap en Suid-Kaap, sê veral die laerskooldeelnemers se kennis het dié jaar verstom. Om dinge warm en opwindend te hou, was die bekende akteur Beer Adriaanse die aanbieder. Hy is ook die aanbieder van Slim van sy baas op VIA en was onder meer te sien in Hotel, Kanarie en Wonderlus.
Algemene kennis word nie as vanselfsprekend beskou in hierdie kopkrappervasvra nie en leerders moet beslis wyd belese wees, radio luister, sosiale media dophou en hul musiek en kunstenaars ken om die skerpstes van die skerpes te wees. Die Hoërskool Cradock het met die louere weggestap, gevolg deur die Hoër Landbouskool Marlow in die tweede plek. In die laerskole-afdeling het die Laerskool Innes ’n eerste plek ingepalm met die Laerskool Handhaaf kort op hul hakke.
Volgens Christie is die Vlymskerp-vasvra deur die vorige streeksbestuurder, Elda Kruger, op die been gebring. Dit was ’n kompetisie tussen die leerlinge van plaaslike hoërskole met algemene-kennisvrae en vrae oor taal en musiek. Destyds was Die Burger nog in druk in dié streek en het die leerders eers die koerant gelees voor vrae aan hulle gestel is. “Hierdie keer is dit meer algemene-kennisvrae oor die wêreld, taal en musiek. Dis belangrik dat kinders moet weet wat in die wêreld aangaan,” sê Christie.
“In die week van die Vlymskerp-vasvra kry hulle leidrade wat wenke gee oor waarna hulle moet kyk, soos die Wêreldbeker-rugbytoernooi, sodat hulle kan weet waarna om op te let.
“Ons vra hulle ook wat in die wêreld gebeur. Daar heers ’n lekker, ontspanne atmosfeer, selfs die kos het ’n karnavaltema. Dis regtig nie ’n streng olimpiade nie.”
Sylvia Messenheimer, onderwyseres van die Laerskool Innes, sê die deelname aan die kompetisie was vir haar en die leerders ’n onvergeetlike ervaring. “Die idee van die vasvra is met groot entoesiasme deur die leerders en onderwysers ontvang. Enersyds wou die leerders hul kennis en vaardighede toets en andersyds wou ons as onderwysers ’n waardevolle leerervaring aan ons leerders bied. Die Innes-span se vasberadenheid en kennis het hulle laat deurdring na die finale ronde. In hierdie ronde was hulle werklik ‘vlymskerp’ en vrae is vinnig en selfversekerd beantwoord. Die opwinding van die kompetisie was deurentyd sigbaar op hul gesigte en hul vertoning in die finale ronde was uit die boonste rakke.
“Nadat Innes die kompetisie gewen het, was die leerders oorstelp van vreugde, dog verbaas dat hul ander topskole kon klop. Die gevoel van sukses en prestasie het vir elkeen van die span baie beteken. Dis iets wat hulle vir altyd sal bybly,” sê Sylvia.
Vir Ilse Opperman en haar leerderspan van die Hoërskool Cradock was dit ook ’n besonderse ervaring. Sy sê die leerders se algemene kennis het hulle deurgetrek na die eerste plek.
Die kompetisie is vanjaar weer in Gqeberha by die Laerskool Sunridge aangebied.