‘Skorpio’: ’n Spanningsbelaaide leesplesier
Wanneer ’n Bennie Griessel-roman die rakke tref, begin aanhangers van Deon Meyer hulle palms warm vryf. Nóg ’n bobaas krimi wat die hartklop versnel en die senuwees aan flarde ruk…
Sy karakters het diep in lesers se harte gekruip en wanneer jy ’n nuwe Deon Meyer oopslaan, voel dit meteens of jy weer met ’n lang verlore skoolvriend kennis maak. Dink maar aan die nimlike Emma, of die onverskrokke Lemmer. Dit is egter die berekende Bennie Griessel en die bekkige Vaughn Cupido wat as die gunstelinge uitstaan.
In Meyer se nuutste aflewering, Skorpio, maak ons weer kennis met die gedugte tweemanskap, maar hierdie keer is die twee speurders afsonderlik besig met twee aparte sake.
’n Oudspeurder, Skinny Maarman, word dood onder sy motor gevind waaraan hy gewerk het. Is dit ’n fratsongeluk of is daar onheilspellende kragte betrokke? Los dit aan Bennie om agter die kap van die byl te kom. Die speurder ruik lont, maar hy wroeg met sy eie demone en moet steeds die drankduiwel op hok hou.
“Tot so twee jaar gelede was hy hoofsaaklik emosioneel beskikbaar vir die bottel. En sedertdien is die meeste van sy emosionele energie – dit wat oor is ná ’n dag se werk – by die stryd om sy sielkundige se raad van gesond word so goed moontlik na te volg.”
Jy kry ook ’n dieper blik op die gerekende speurder deur uittreksels van ’n artikel wat kamstig in die Vrye Weekblad oor Bennie verskyn. Hier gee Meyer vir die lesers brokkies inligting oor Bennie se verlede en hoe hy in die polisiemag beland het.
“Dit was toe dat ek gedink het, ek wil ’n poliesman wees. Want dit is iets wat ek kán doen. Die eerste keer dat ek dit gevoel het; okay, dis iets waarmee ek goed kan wees.”
Terwyl Bennie die moord op hulle oorlede kameraad ondersoek, kry Vaughn te doen met wat op die oog af soos ’n nuttelose saak voorkom. ’n Herdershuisie in die Boland het onverklaarbaar ontplof en Vaughn probeer uitpluis hoekom hý op die niksseggende saak gesit is.
Ooggetuies beweer hulle het vreemde ligte in die donkernag gesien en een beweer selfs dat hulle hier met vlieënde pierings te make het. Dit laat jou gou wonder of Vaughn nou sy lyf Fox Mulder hou en of Meyer die gevaarlike terrein van wetenskapsfiksie betree het.
Dinge vat egter ’n interessante draai wanneer ’n jong akteur in sy karavaan opgeblaas word en Vaughn stuk vir stuk die legkaart aanmekaar begin sit.
Meyer wys net weer in Skorpio dat hy ’n meester van misdaadfiksie is en dat hy sorgvuldig en met oorgawe ’n komplekse tapisserie aanmekaar flans.
Op die oog af lyk die misdade vir die leser eenvoudig en iets wat ’n junior speurder moet ondersoek, maar jy kom gou agter dat daar veel groter en bose kragte agter dit skuil.
Die duo is egter op ’n kruispad wanneer hulle besef hul sake het dalk iets gemeen, maar dit bemoeilik die ondersoek.
“Probleem is, hy en Cupido was die afgelope jare mekaar se betroubare klankborde. Hulle kon onbevange hul teorieë en vertwyfelinge deel, die een kon staatmaak op die ander se eerlike mening, hulle kon saam by die beste gevolgtrekking uitkom. Maar hierdie keer…”
Meyer laat jou ook heeltyd wonder wie werklik agter hierdie meesterplan sit. Die antagonis is eerder ’n antiheld as ’n koelbloedige misdadiger.
Bennie is weereens in Skorpio gedruk vir tyd om die misdade op te los en dinge sneeubal wanneer sy seun Frits se lewe in die weegskaal kom.
Skorpio is soveel meer as net nóg ’n krimi. Indien jy met sorg die wel en weë van Meyer se karakters gevolg het, gaan hierdie boek vir jou dieper insigte gee en jou senuwees aan flarde ruk.
– Jacques Myburgh