Skryf nóú in vir die heel eerste ATKV-DigiGedigte
DigiGedigte, ’n nuwe kategorie in die ATKV se DigiProjekte-aanbod wat spesiaal geskep is om digkuns in te sluit, word vanjaar vir die eerste keer aangebied.
Melanie Marais, ATKV-projekorganiseerder, het voorheen gesê die sukses van die DigiProjekte in die afgelope klompie jare het v haar en haar kollegas oortuig om addisionele kategorieë by te voeg.
“Die ATKV bied die geleentheid om hierdie deel van ons taalerfenis deur ATKV-DigiGedigte te vier,” sê Melanie. “Ons DigiGedigte-kompetisie bied die platform vir deelnemers om van die prettigste en pragtigste Afrikaanse gedigte met ’n waarderende gehoor te deel.”
Skryf maklik in deur jou gedig in PDF-formaat aan te stuur. As jy toegang tot die internet het asook ’n slimfoon, rekenaar of tablet, kan jy inskryf.
Of jy van paarrym of omarmde rym hou of eerder met die vrye vers woeker, DigiGedigte en die res van die wêreld wag op jou digterlike vernuf.
Daar is vyf breë temas en jy kan oor enige aspek van hierdie temas skryf: ’n natuurgedig, ’n reisgedig, ’n komiese gedig, ’n gedig oor kosbare dinge, of ’n gedig oor die stories op mense se gesigte.
Belangstellendes kan in die volgende kategorieë in Afrikaans Huistaal en Afrikaans Addisionele Taal inskryf: Graad 6 en 7; Graad 8 en 9; Graad 10 tot 12; en volwassenes.
Die inskrywingsgeld beloop R120 per gedig en inskrywings sluit op 11 Oktober 2024. Die datums waarop die digitale platform vir deelname beskikbaar gaan wees, asook die skakel na die digitale platform, sal ná die sluitingsdatum aan die deelnemers gestuur word.
Daar word van deelnemers vereis om aan sekere riglyne te voldoen.
Titel: Die gedigte moet ’n titel hê. Die titel moet ook goed by die inhoud van die gedig pas.
Rym: Die gedigte hoef nie te rym nie, maar rymgedigte is ook welkom en so ook vrye verse.
Verbeelding of werklikheid: Die titel hoef nie oor die werklikheid te wees nie. Jy kan ook jou verbeelding inspan. Of jy kan die werklikheid en jou verbeelding met mekaar vermeng.
Oorspronklikheid: Goeie gedigte is gewoonlik oorspronklik. Die tema mag miskien alledaags wees, maar jy kan op jou eie unieke manier daaroor skryf.
Interessante beelde: Gebruik dinge soos beelde, vergelykings en treffende woorde wat jy self ook kan skep.
Slot: ’n Gedig sluit gewoonlik op ’n hoogtepunt af, en die slot kan ’n verrassing of nuwe insigte vir die digter bevat.
Geen oorskryf nie: Elke gedig moet jou eie gedig wees wat jy self geskryf het. Jy mag nie ander digters se gedigte in geheel oorskryf of reëls van ander gedigte in jou eie gedig gebruik nie. Dit sal tot jou onmiddellike diskwalifikasie lei.
Die vereiste lengte van gedigte wissel in die verskillende kategorieë soos volg – Graad 6 en 7: 5 tot 10 reëls; Graad 8 en 9: 10 tot 20 reëls; Graad 10 tot 12: 10 tot 30 reëls; en volwassenes: 10 tot 35 reëls.
’n Paneel kundige beoordelaars sal elke gedig in digitale formaat evalueer volgens die kategorieë en die riglyne vir gedigte.
Deelnemers sal in kennis gestel word en sal hulle deelnamesertifikate digitaal kan aflaai. Die beste gedigte sal ná die afhandeling van die beoordeling op die ATKV-webwerf en ook op ander sosialemediaplatforms van die ATKV gepubliseer word.
Elke deelnemer ontvang ’n deelnamesertifikaat met die simbool wat hy of sy behaal het. Die wenner in elke kategorie sal ook ’n ATKV-sertifikaat ontvang.
Belangstellendes wat meer inligting verlang, kan Melanie by 011 919 9015 kontak, of stuur ʼn e-pos aan melaniem@atkv.org.za.