Skryf nóú in vir die heel eerste ATKV-DigiVoordrag
DigiVoordrag, ’n nuwe kategorie in die ATKV se DigiProjekte-aanbod wat spesiaal geskep is om voordrag in te sluit, word vanjaar vir die eerste keer aangebied.
Volgens Melanie Marais, ATKV-projekorganiseerder, het die sukses van die DigiProjekte in die afgelope klompie jare vir haar en haar kollegas oortuig om addisionele kategorieë by te voeg.
“Die ATKV gee die geleentheid om hierdie deel van ons taalerfenis te vier deur ATKV-DigiVoordrag,” sê Melanie. “Ons DigiVoordrag-kompetisie bied die platform vir deelnemers om van die prettigste en pragtigste Afrikaanse poësie met ’n waarderende gehoor te deel. Wat is dan mooier as Afrikaanse gedigte?
“Belangstellendes kan die mooiste Afrikaanse gedig kies wat hulle met gemak en selfvertroue geniet om voor te dra. Hulle kan in die volgende kategorieë in Afrikaans Huistaal en Afrikaans Addisionele Taal inskryf: Graad RR; Graad 1 tot 3; Graad 4 en 5; en Graad 6 en 7.
“Jou gedig hoef nie oor ’n spesifieke tema te gaan nie en dit geld vir Afrikaans Huistaal en Afrikaans Addisionele Taal,” sê Melanie.
“Jy kan boonop enige soort gedig kies: van ’n kwatryn tot ʼn ballade of enige ander soort. Die gedig hoef nie te rym nie en dit kan ook ’n vrye vers wees.
“Let wel, dit moet ’n bestaande gedig wees van ’n redelik bekende digter of digteres en nie een wat jy self, ’n vriend of vriendin, familielid of ander kennisse geskryf het nie.”
Wat is op die spel?
“Die wenner in elke kategorie ontvang ’n ATKV-sertifikaat, terwyl alle deelnemers ’n deelnamesertifikaat ontvang, met die deelnemer se simbool wat op die sertifikaat sal verskyn,” sê Melanie.
Sy voeg by dat ’n paneel kundige beoordelaars elke deelnemer se voordrag aan die hand van die video’s wat hulle ontvang, sal evalueer.
“Deelnemers sal in kennis gestel word en sal hulle deelnamesertifikate van die internet kan aflaai. Die name van die voordraers met die hoogste persentasie sal ná die afhandeling van hierdie evaluasie en beoordeling, op die ATKV se sosialemediaplatforms en die ATKV-webwerf bekendgemaak word.”
Daar is verskeie riglyne vir beoordeling en ’n simbool word volgens persentasie toegeken. Daar word opgelet na aspekte soos die voorstelling van die voordraer, die aankondiging van die titel en digter(es), die uitspraak van woorde, hoe gevoelvol en atmosfeerskeppend die voordrag is, interpretasie van die gedig, stemtoon en intonasie, gesigsuitdrukkings, voorkoms, selfvertroue en gebare.
Melanie sê wat sy baie opwindend vind, is die feit dat ATKV-DigiVoordrag geen perke het nie en plaaslike sowel as internasionale belangstellendes kan deelneem.
Die ATKV het ATKV-DigiProjekte juis geskep om die kinders uit te daag, maar dit het gou ook die ouers uitgedaag,” sê sy.
“Boonop hoef jy nie ver te reis om aan hierdie digitale kompetisies deel te neem nie. Jy benodig eenvoudig net toegang tot ’n rekenaar, tablet of slimfoon en ’n internetverbinding.
“Betree dus gerus ons digitale wêreldverhoog! Kry jou slimfoon, rekenaar of tablet en skep jou eie ruimte met goeie internetverbinding tuis of iewers op die aardbol. Nou kan jy mense oor die wêreld heen meevoer deur jou Afrikaanse gedig meesleurend voor te dra, op te neem en die video vir ons te stuur.
“Inskrywings sluit op 4 Oktober 2024. Kry asseblief jou video gereed vóór die sluitingsdatum.”
Klik hier vir die deelnemersgids of hier vir die inskrywingsvorm.
Belangstellendes wat meer inligting verlang, kan Melanie by 011 919 9015 kontak, of stuur ʼn e-pos aan melaniem@atkv.org.za.